Garsies se Ysbere deur na eindstryd van Fain Noordvaal kriekettoernooi
Hoërskool Garsfontein speel eerskomende naweek in die eindstryd van die Fain Noordvaal krieketreeks, nadat hul kolwers die afgeope naweek ’n merkwaardige vertoning gelewer het om Potchefsroom Gimnasium in die halfeindstryd van die toernooi te klop.
Hoërskool Garsfontein se eerste krieketspan, ook bekend as die Ysbere, het die afgelope naweek gekwalifiseer vir die eindstryd van die gesogte Fain Noordvaal skole-krieketreeks, nadat hulle met Potchefsroom Gimnasium in die halfeindstryd afgereken het.
Met hierdie vyf-paaltjies oorwinning kry die Ysbere die geleentheid om dié toernooi vir die eerste keer in sewe jaar te wen, nadat hulle laas die trofee in 2018 kon lig.
Nadat hulle Hoërskool Waterkloof verlede week in die kwarteindstryd met vier paaltjies geklop het, het die Garsies die afgelope naweek gasheer gespeel vir die Noordwesters, wat op hulle beurt met Hoërskool Middelburg in die kwarteindrondte afgereken het.
Potchefstroom Gimnasium se span het eerste gekolf en ’n baie goeie totaal van 305 lopies aangeteken, wat ’n honderdtal en twee vyftigtalle ingesluit het.
Jared Carr was die Garsies se beste bouler met sy ontleding van 7/90 in sy toegelate tien boulbeurte.
Die Ysbere se kolwers het ’n groot taak gehad om teen meer as ses lopies per boulbeurt te kolf, maar hulle het vir geen oomblik teruggedeins vir die uitdaging nie.
Puik beurte deur Reuben van Zyl (70), Charl van Staden (63), Xander Venter (55*), Wikus du Preez (44) en Riaan Boshoff (41*) het die wa deur die drif getrek vir die Garsies.
Veral Van Zyl se telling, wat van net 36 balle aangeteken is, was merkwaardig, terwyl Venter en Boshoff teen die einde van die beurt ’n onoorwonne vennootskap van 96 lopies aangeteken het om die oorwinning te verseker.
Die Garsies se Ysbere ontmoet Hoërskool Dr. Malan eerskomende naweek in die eindstryd, nadat die span van Meyerton die afgelope naweek met Hoërskool Kemptonpark afgereken het in die ander halfeindstryd.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.












