Local sportSchool sportSport

Tienermeisie van Pretoria korrel raak in meer as een skietkode

Jag en skyfskiet is ’n nasionale tydverdryf in Suid-Afrika en hoewel dit gewoonlik as aktiwiteite vir manne beskou word, is ’n skooldogter van die Moot in Pretoria besig om baie persepsies hieroor letterlik aan flarde te skiet.

Sy het haar eerste bok – ’n Blesbok – op die ouderdom van nege met ’n netjiese skoot tussen die oë platgetrek, nadat sy reeds amptelik as sportjagter begin spesialiseer het.

Op elfjarige ouderdom het sy die verskillende wapens in Sport&Jag se tien kategorieë só behendig hanteer, dat sy reeds povinsiale kleure in dié sport verdien het. Sedertdien het sy jaarliks nasionale kleure in Sportjag ontvang, terwyl sy ook al ’n paar keer as SA kampioen gekroon is én die rekord hou as jongste nasionale kampioen ooit.

Intussen het sy ook in Veldteikenskiet begin uitblink en kort voor lank in dié skietkode ook nasionale kleure verwerf.

Die merkwaardige verhaal van die 17-jarige Chanté van der Merwe se loopbaan as bobaas skut word dalk die beste opgesom deur ’n rare prestasie waarmee min sportmanne of -vroue kan spog. Sy het daarin geslaag om haar mentor op nasionale vlak in ’n Veldteikenskiet kompetisie te klop, skaars sewe jaar nadat hy haar die vaardighede van die skietkuns geleer het.

Daar is boonop ’n kinkel in die storie. Van der Merwe se mentor wat teen haar die knie moes buig by vanjaar se nasionale Veldteikenskiet kampioenskap, is ook haar stiefpa, Carel Coetsee.

Hieroor is Coetsee egter gladnie verleë nie. Trouens, hy spog self met ’n string prestasies in sy lang loopbaan as skut en hy is besonder trots op sy stiefdogter. Die ligpunt van die storie is dat hulle albei intussen gekies is vir die nasionale Veldteikenskiet span, wat volgende jaar in die stad Vacenovice in die Tsjeggiese Republiek aangebied sal word.

’n Verdere kinkel in die storie is dat hy op 64 die oudste lid van die span is, terwyl sy op 17 die jongste is.

As junior het Van der Merwe nie haar gelyke in Suid-Afrika in beide die skietkodes – Sport&Jag en Veldteiken skiet – nie. Sy was boonop twee jaar gelede op die ouderdom van 15 die eerste junior ooit wat dit kon regkry om nasionale kleure in Veldteikenskiet te ontvang.

Vanjaar het sy die seniors weer opgedreun en aanvanklik gesamentlik tweede geëindig, waarna sy en twee senior skuts moes uitskiet vir die silwer en brons medaljes. Hoewel sy uiteindelik vierde geëindig het, is sy saam met Coetsee, wat vyfde was, vir die nasionale span gekies.

Dié graad-11 leerling van Hoërskool Wonderboom se ma, Jacky Coetsee, is ook ’n kranige skut wat al nasionale kleure verwerf en ’n nasionale titel in die senior vroue kategorie gewen het. Die gesin is nou hard aan die werk om hul planne – veral ten opsigte van die finansies – in orde te kry, want Jacky gaan haar man en dogter vergesel op hul reis na Oos-Europa.

Beide Sport&Jag en Veldteikenskiet is buitelug sporte en dit is juis wat dié skietkodes vir Van der Merwe so aantreklik maak.

“Ek hou van die buitelug, die veld en diere. Ek sal graag na skool by afrigting betrokke wil raak, maar ek dink ook aan ’n loopbaan as toergids of wildbewaarder – solank en in die natuur kan wees,” het sy haar toekomsplanne verduidelik.

Daar is geen twyfel dat dié jong dame reeds ’n baanbreker op die skietbane van Suid-Afrika is nie. Eersdaags gaan sy waarskynlik ook vir die res van die wêreld wys dat Boeremeisies net so goed is met ’n wapen in die hand as hul manlike kollegas.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button