Affies klop Waterkloof in skouspelagtige skolerugby derby
Die afgelope naweek se skouspelagtige skolerugby derby tussen die Blou Tornado van Waterkloof en Affies se Wit Bulle het onteenseglik bewys dat die spel op hierdie vlak steeds ’n reuse rol speel in die profiel van rugby in Suid-Afrika.
Die skolerugby derby tussen Hoërskool Waterkloof en die Afrikaanse Hoër Seunsskool Pretoria (Affies) is reeds 39 jaar oud en die afgelope naweek is dit weer bewys dat dié tweestryd steeds die verbeelding van die stad se sportliefhebbers aangryp.
Selfs die die reënweer én die senior Noord vs Suid derby tussen die Blou Bulle en die Stormers op Loftus Versfeld, wat Saterdag op presies dieselfde tyd afgeskop het, kon nie liefhebbers van skolerugby en ondersteuners van die twee skole se geesdrif demp nie. Meer as 5000 toeskouers het om Waterkloof se rugbyveld saamgepak om dié skouspel te ondersteun.
Hoewel Affies uiteindelik met 34-20 gewen het, het die draaiboek van hierdie skouspel baie meer inhoud as net die feit dat die Wit Bulle hul sewende agtereenvolgende oorwinning oor een van hul tradisionele teenstanders behaal het.
Hierdie twee spanne het só vroeg in die seisoen gewys dat albei vanjaar die potensiaal het om groot sukses op die rugbyveld te behaal.
Die wedstryd het drie baie belangrike kenmerke gehad. Eerstens was die kondisionering van die spelers só vroeg in die seisoen verstommend én ’n refleksie op die hoë vlak waarop skolerugby by top skole deesdae bestuur word. Die tweede aspek, wat met die kondisionering verband hou, was die standaard van die spel, wat weer die uiters hoë vlak van afrigting reflekteer. Dan was daar derdens die karakter en veggees wat albei spanne se aanslag gekenmerk het en wat uiteindelik bygedra het daartoe om van die wedstryd ’n skouspel te maak.
Op papier was Affies waarskynlik die groot gunsteling met hul fisieke voordeel gesetel in ’n groot, swaar pak voorspelers én die feit dat hulle oor ’n meer ervare span beskik het.
Affies was byna man-vir-man groter as hul teenstanders, maar hiervoor het die Klofies opgemaak met vreeslose verdediging en ’n puik wedstrydplan, wat so byna vir ’n verrassing gesorg het. Veral die wyse waarop hulle deur die wedstryd kon aanpas om hul man in die vaste fasette van die spel te staan teen Affies se groot pak, was ’n getuienis hiervan.
Die besoekers het wel vroeg in die wedstryd daarin geslaag om hul groot pak voorspelers se krag gebruik en aldrie hul drieë in die eerste helfte het gevolg ná dryfspel vanaf lynstane óf kraglopies gekombineer met ’n hoë tempo.
Hoewel Klofies ook kort voor rustyd met ’n dryfbeweging oor die doellyn is, het die Wit Bulle die tweede skof met ’n voorsprong van 17-8 begin.
Affies het boonop dié voorsprong vroeg in die tweede helfte na 22-8 vergroot, toe linkervleuel, Joshua Gouws hul vierde drie – die eerste deur ’n agterspeler – gaan druk het.



Foto: Frans Lombard




Maar toe kom die Blou Tornado se karakter na vore. Ten spyte van die feit dat hulle hul inspirerende kaptein, buitesenter Meyer Pretorius, met ’n besering verloor het, kon die tuisspan daarin slaag om terug te veg. Affies is ’n paar keer by die vaste skrums gestraf en die Klofies het hul spel meer begin afwissel, met losskakel Liam Schutte wat sake beter beheer het.
Die vuurvreter Klofie flank, Hugo Dercksen, het intussen die leierskap oorgeneem en met voorbeeld gelei om die momentum om te keer. Hy was vroeër ongelukkig om ’n baie tegniese geelkaart te ontvang vir ’n duikslag waar die teenstander inderdaad reeds voor die kontak gegly het, maar Dercksen het hiervoor opgemaak deur sy hoë werkverrigting en leierskap.
Klofies het ’n groot deel van die tweede helfte oorheers en twee drieë later, waarvan Dercksen welverdiend een gedruk het, was dit skielik Affies wat onder druk hul keer moes ken met die telling op 22-20.
Affies het egter gewys wat hulle met die bekende gesegde “Affie Guts” bedoel. Hul kaptein, die reuse slot Martin van Niekerk, het sy manne se fokus herstel en nadat hulle op kermerkende wyse die tempo versnel het, kon die Wit Bulle twee drieë in die laaste vyf minute druk om die oorwining te beklink.
Terloops, Van Niekerk se spel en leierskap, met sy atletiese vermoë wat verbasend is vir só ’n groot 18-jarige seun, laat ’n mens wonder of Affies besig is om die tweede RG Snyman vir groot rugby voor te berei daar op “Die Plaas” oorkant Loftus.
***************************
* Waterkloof het vroeër verlede week reeds hul seisoen met ’n oorwinning van 40-9 teen HTS Middelburg in die NWU-Skolesportreeks afgeskop en indien hulle Hoërskool Piet Retief eerskomende naweek in die tweede bepaling kan klop, sal hulle vir die halfeindrondte op 11 April kwalifiseer. Die Klofies is die mede-houers van die titel in hierdie reeks, nadat hulle verlede jaar in die eindstryd gelykop gespeel het teen Hoërskool Menlopark.
* Affies reis eerskomende naweek Wes-Kaap toe, waar hul seisoen behoorlik momentum sal kry in hul jaarlikse tweestryd teen Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch.
* Menlopark het ook hul eerste wedstryd in die NWU-Skolesportreeks maklik gewen deur Hoërskool Eldoraigne met 55-6 kaf te draf.
* Hoërskool Garsfontein se seisoen het rukkerig begin toe hulle die afgelope naweek in hul eerste wedstryd van die jaar teen Jeppe High School for Boys met 26-29 verloor het. Die Garsie Bere se volgende wedstryd is op Vrydag 27 Maart teen Hoërskool Stellenberg in die Noord-Suid toernooi by Affies.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
