Local sportSchool sportSport

Garsies onthul moderne nuwe sportfasiliteite en kondig nóg groot planne aan

Hoërskool Garsfontein het onlangs hul atletiek fasiliteite met die hulp van die nuutste tegnologie opgegradeer, terwyl die skool ook opwindende planne bekendgemaak het ten opsigte van nóg multi-miljoen rand ontwikkelings om hul sport-infrastruktuur uit te bou.

Die Hoërskool Garsfontein het verlede week die eerste fase van drie verskillende ontwikkelings op hul skoolterrein bekendgestel wat dié skool se kapasiteit vir deelname aan verskeie sportsoorte sal verbeter.

Die eerste fase van hierdie multi-miljoen rand ontwikkelings is die opgradering en uitbreiding van sintetiese oppervlaktes vir die skool se atletiek fasiliteite.

Eerstens is die sintetiese oppervlaktes, wat eersteklas fasiliteite bied aan verspringers, hoogspringers en spiesgooiers, met die nuutste produkte en tegnologie oorgedoen. Dit beteken dat deelnemers aan dié velditems op die skool se atletiekbaan kan oefen en deelneem op oppervlaktes gelykstaande aan dit wat in die land se beste atletiekstadions beskikbaar is.

Hoewel die atletiekbaan van die skool as sodanig steeds ’n grasoppervlak het, is daar besluit om vir baanatlete ook ’n fasiliteit te bou wat hul voorbereiding en ontwikkeling kan bevoordeel. Dié fasiliteit is ontwikkel in die vorm van ’n sintetiese strook van sowat 100m langs die bestaande grasbaan. Dit bestaan uit twee standaard lane gebou uit die mees moderne sintetiese materiaal, waarop naellopers en hekkies-atlete aspekte soos hul wegspring, versnelling en tegniek kan oefen.

Dié nuwe atletiek fasiliteite is amptelik deur die skool se waarnemende hoof, Fraser Parker, en die skool se atletiekdirekteur, Tobie Holtzhausen, geopen. Hulle is vergesel deur verskeie lede van die skool se topbestuur, sowel as lede van die beheerliggaam en verteenwoordigers van CK Industries, die maatskappy wat vir die nuwe sintetiese oppervlaktes verantwoordelik was.

Hoewel Garsfontein die afgelope dekade gegroei het tot een van die beste skole in die land ten opsigte van sportsoorte soos rugby, hokkie en krieket, maak die skool se bestuur self geen geheim daarvan dat harde werk voorlê om hul atletiekprogram ook op die vlak te kry waar hulle met die bestes kan kompeteer nie.

“Hoewel ons die afgelope jare puik individuele atlete opgelewer het, was ons prestasie by die Pretoria A-bond interhoër vanjaar nie na wense nie. Daar is ’n daadwerlike plan om hierdie situaise te verander en hierdie ontwikkelings is deel van daardie plan,” het Parker, tydens die seremonie gesê.

Holtzhausen, ’n dimamiese jong kenner van die sport, is ook onlangs as atletiekdirekteur aangestel om die skool se atletiekprogram te bestuur.

– Intussen het die skool ook bekendgemaak dat daar eersdaags met die ontwikkeling van nóg twee sportfasiliteite op hul terrein begin word, wat Hoërskool Garsfontein se aanbod tot wêreldklas sportprogramme sal verbeter.

Die eerste hiervan is ’n reuse veeldoelige sportsentrum. Dié fasiliteit sal voorsiening maak vir die binnenshuise beoefening van sportsoorte soos krieket, netbal en hokkie, terwyl dit ook ingerig sal wees om groot funksies te kan aanbied.

Hoërskool Garsfontein het verlede week die eerste van drie nuwe sportfasiliteite op die skoolterrein amptelik in gebruik geneem. Hier staan van links, Tobie Holtzhausen (atletiekdirekteur), Fraser Parker (waarnemende hoof), Phillip van Tonder (direkteur van CK Industries) en sy kollegas, Keith van Tonder en Harry Swart. CK Indiustries was verantwoordelik vir die bou van verskeie sintetiese oppervlaktes vir naellopers, hoogspringers, spiesgooiers en verspringers op die skool se atletiekbaan.
Foto: Koos Venter

Tegnologie soos ’n sintetiese oppervlak waarop verskeie sportsoorte beoefen kan word, wêreldklas kleedkamers wat ook vir spanne op die aanliggende buitelug krieket-, netbal-, tennis- en hokkiebane beskikbaar sal wees en boulmasjiene vir krieket oefeninge sal alles deel uitmaak van dié multi-miljoen rand fasiliteit.

Volgens Gerhard van Wyk, beheerliggaam lid belas met die bestuur van die projek, word daar voorlopig beplan om die sentrum in die volgende 12 maande te voltooi.

’n Verdere toevoeging tot Garsfontein se sportfasiliteite is die bou van ’n 25m swembad, wat die skool se swemprogram ook na die volgende vlak kan neem. Dié swembad sal toegerus word met kleedkamers en ’n paviljoen vir toeskouers, terwyl die swembad-kompleks ook ’n fasiliteit sal insluit om ’n gholf-akademie te bedryf.  

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button