Local sportSchool sportSport

Pretoria atlete laat nasionale rekords spat by ASA se jeug- en junior kampioenskappe

Terwyl die atlete van Atletiek Gauteng Noord (AGN) die afgelope naweek wéér die nasionale jeug- en junior kampioenskappe oorheers het, het verskeie plaaslike atlete uit Pretoria ook nuwe nasionale rekords agter hul name geskryf en vir die o.20 wêreldkampioenskap in Amerika gekwalifiseer.

Atletiek Suid-Afrika (ASA) kan vanjaar ’n baie sterk span stuur na die junior wêreldkampioenskap in Amerika en daardie span sal ná die afgelope naweek se nasionale junior- en jeugkampioenskappe oorheers word deur atlete van Pretoria, wat Atletiek Gauteng Noord (AGN) gehelp het om wéér dié byeenkoms te oorheers.

Die span van AGN het altesaam 153 medaljes ingepalm, wat byna dubbel die hoeveelheid is (83) van hul naaste teenstander, Sentraal Gauteng Atletiek. Daarna volg Boland Atletiek met 69 medaljes, Atletiek Sentraal-Noordwes (56) en Atletiek Vrystaat met 41 medaljes. Die span van Westelike Provinsie het vanjaar verbasend swak gedoen deur in die sesde plek te eindig met 24 medaljes.

Die Hoërskool Menlopark se ster-atleet, Megan Nieman, wen die 400m hekkies vir dogters o.18 in ’n nuwe SA rekord tyd, nadat sy die teleurstelling moes beleef om in haar gunsteling item, die 100m hekkies, gediskwalifiseer te word. Foto: Charmaine Visser

AGN het uiteraard ook die meeste goue (54), silwer (54) en bronsmedaljes (45) huistoe geneem. 

Altesaam 16 provinsiale spanne het aan die kampioenskap deelgeneem. Die byeenkoms, wat in Germiston aan die Oos-Rand aangebied is, het voorsiening gemaak vir atlete om in vier verskillende jeug- en junior ouderdomsgroepe te kompeteer. Hierdie ouderdomsgroepe sluit in o.16; o.18; o.20 en o.23 kategorieë.

Daar was wel verskeie hoërskool atlete wat amptelik nog onder die o.14 en o.15 ouderdomsgroep resorteer, maar in hul items gekwalifiseer het om Gauteng-Noord as o.16 atlete te verteenwoordig.

Dieselfde geld vir o.17 atlete, wat gekwalifiseer het om in die o.18 ouderdomsgroep deel te neem. Dan was daar ook skole-atlete wat in die o.20 kategorie deelgeneem het met ’n doelwit om vir Wêreldatletiek (voorheen die Internasionale Amateur Atletiekfederasie – IAAF) se o.20 kampioenskap te kwalifiseer wat in Augustus vanjaar in Amerika aangebied sal word.

Ses nasionale junior rekords het tydens die kampioenskap in die slag gebly, waarvan vyf deur AGN atlete verbeter is. Verskeie atlete het ook prestaises behaal wat volpunte (1000) werd is op  Atletiek Suid-Afrika se Athletics Performance Evaluation (APE) tabel. Dié prestasie word as wêreldklas beskou.

Plaaslike atlete se prestasies is te veel om op te noem, maar dit is duidelik dat die krag van Suid-Afrikaanse atletiek gebou word onder die puik atlete en afrigters van Pretoria.

In die 100m hekkies item vir dogters o.18 het AGN skoonskip gemaak en met al drie die medaljes weggestap. Ongelukkig het die groot gunsteling in hierdie item, die 17-jarige Megan Nieman van Die Hoërskool Menlopark, nie in die eindwedloop deelgeneem nie, nadat sy in ’n uitdun wedloop gediskwalifiseer is toe sy te vroeg weggespring het. Dit het die geleentheid geskep vir haar oefenmaat by Menlopark, Janelle Krikpatrick (15), om goud te wen én boonop ’n nuwe ASA o.18 rekord van 12,96s op te stel. Die 16-jarige Megan Maree van Hoërskool Garsfontein was tweede in 13,07s. Beide Kirkpatrick en Maree het 1000 APE punte verdien. Die bronsmedalje is gewen deur Hoërskool Zwartkop se Lara van der Poll in 13,44s.

Janelle Kirkpatrick van Die Hoërskool Menlopark op pad na haar goue medalje en nuwe SA rekord in die 100m hekkies vir dogters o.18. Foto: Charmaine Visser

Nieman het egter teruggebons in die 400m hekkies item vir dogters o.18 toe sy in ’n tyd van 56,45s gewen en haar eie nasionale rekord verbeter het. AGN het weer skoonskip gemaak met Christi Loggenberg van AHMP wat tweede was in 57,11s en Kirkpatrick wat brons gewen het in 58,21s. Al drie atlete het 1000 APE punte verdien.

Loggenberg het egter haar stem ook dik gemaak in die gewone 400m wedloop vir dogters o.18, waar sy ’n nuwe nasionale rekord opgestel het met haar wentyd van 52,33s. Isabelle Gunter van Hoërskool Montana was tweede in ’n tyd van 53,91s, wat net soos Loggenberg se tyd 1000 APE punte werd is.

Die Tuks student, Tumi Ramokgopa, het die 100m hekkies wedloop vir o.20 vroue ook in ’n nuwe nasionale rekordtyd van 12,93s (1000 APE punte) gewen en in die proses vir die junior wêreldkampioenskap gekwalifiseer. Daarna het sy die 400m hekkies vir o.20 vroue gewen in ’n tyd van 56,05s, wat ook haar plek in die SA junior span na Amerika bespreek.

Nog ‘n Pretorianer wat ’n junior nasionale rekord verbeter het is die 19-jarige Matodzi Ndou van Tuks. Hy het die 400m hekies vir o.20 mans gewen in ’n tyd van 48,64s.

Tiisetso Malungane van Curro Hazeldean het ’n tweekuns in die 800m (01:47,65) en 1500m (03:45,82) vir seuns o.18 behaal. Albei hierdie tye het 1000 APE punte verdien.

Taelen Smith van Die Hoërskool Menlopark, het die frustrasie van ’n besering wat hom lank uit aksie gehou het, afgeskud, en hy het die titel in die hoogspring vir mans o.20 met ’n hoogte van 2,10m gewen. Foto: Charmaine Visser

Naeem Jack (18), die oud Kapenaar wat deesdae ook as lid van die NTC klub in die kleure van Gauteng Noord deelneem, het sy kaartjie na die junior wêreldkampioenskap geboek met sy oorwinning in die 110m hekkies vir mans o.20. Sy wentyd was 13,21s. Jack het ook in die 200m wedloop gekwalifiseer, al is hy deur sy spanmaat, Mukona “Smiley” Manavhela van Curro Hazeldean geklop.

Manavhela het die silwer nmedalje in die 100m (mans o.20) gewen, maar ook in dié wedloop gekwalifiseer vir die junior wêreldkampioenskap.

Die 18-jarige Tuks student, Carise van Rooyen, het ook vir Wêreldatletiek se o.20 kampioenskap gekwalifiseer toe sy die 800m titel vir o.20 vroue in ’n skitter tyd van 02:04,75 gewen het.

Hy is nog ’n 16-jarige skoolseun, maar Joshua Gerber van Menlopark het die diskus titel vir mans o.20 ingepalm met ’n afstand van 57,33m. Gerber het onlangs in Potchefstroom ook ’n internsaionale prestasie behaal toe hy die beste afstand ooit in die wêreld vir ’n o.16 seun met die 1,75kg diskus verbeter het na 60,78m. Foto: Charmaine Visser

In die 800m vir dogters o.16 het AHMP se Lise-Marie Jansen van Rensburg (15) gewen in ’n tyd van 02:08,27, wat 1000 APE punte werd was, terwyl die 14-jarige Onalenna Ngoepe van Curro Hazeldaen die bronsmedalje ingepalm het en ook 1000 APE punte verdien het vir haar tyd van 02:09,62.

Affies se Dewald Bezuidenhout word eers in Junie vanjaar 17, maar hy het vir die Junior Wêreldkampioenskap gekwalifiseer met sy oorwinning in die gewigstoot vir mans o.20 (6kg gewig) met ’n afstand van 19,77m. Kort op sy hakke was Jaco van Dyk van Menlopark, wat in Mei vanjaar 16 sal word. Van Dyk se poging vir die silwer medalje was 19,41m en hy het ook vir die Junior SA span na Amerika gekwalifiseer.

Nog ’n skoolseun wat ’n o.20 titel kon inpalm is Joshua Gerber van Menlopark, wat as 16-jarige die diskus item in dié ouderdomsgroep gewen het met ’n afstand van 57,33m (1000 APE punte). Gerber het onlangs in Potchefstroom ook ’n internsaionale prestasie behaal toe hy die beste afstand ooit in die wêreld vir ’n o.16 seun met die 1,75kg diskus verbeter het na 60,78m.

Christe Loedolff van Tuks het die silwer medalje in die gewigstoot vir vroue o.20 gewen, maar haar afstand van 51,84m (1000APE punte) was ook goed genoeg om vir die Junior wêreldkampioeskap te kwalifiseer.

Nadat die Menlopark matrikulant, Taelen Smith, die grootste deel van die seisoen weens ’n besering misgeloop het, het hy op die regte tyd sy top vorm herwin om die hoogspring vir mans o.20 te wen. Hoewel sy wen-hoofgte van 2,10m nog 5cm laer as sy persoonlike beste is, is dié oorwinning goeie nuus vir Smith.

Tumi Ramokgopa van Tuks spog met haar wentyd in die 100m hekkies vir o.20 vroue. Die finale tyd was 12,93s. Foto: Charmaine Visser

Menlopark se Tommie Cronjé het 1000 APE punte verdien vir sy bronsmedalje en tyd van 04:30,44 in die 1500m hindernis vir seuns o.16.

Mukona “Smiley” Manavhela van Curro Hazeldean, ook bekend as “Smiley”, spog met sy wentyd in die 200m vir mans o.20, waarmee hy vir die junior wêreldkampioenskappe gekwalifiseer het. Foto: Charmaine Visser

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button