Local sportSport

Plaaslike klubs berei voor vir Carltonbeker

Met die Carltonbeker klubrugbytoernooi wat eersdaags afskop, is die betrokke klubs hard aan die voorberei met verskeie vriendskaplike wedstryde en toernooie wat hul opskerp vir die komende seisoen.

Terwyl Tuks die afgelope Maandag hul plek bo-aan die Varsitybeker punteleer bespreek het en die verdedigende Carltonbeker kampioen, Naka Bulle, gereedmaak om in die gesogte Saldanha Super 8 Paastoernooi aan die Weskus deel te neem, sit die ander Carltonbeker klubs nie stil nie.

By Grizzlies in Tuine is daar byna elke naweek aksie en dié klub se spanne is sedert die afhandeling van hul wedstryde in die Sibanye-Stillwater Superliga gereeld betrokke in vriendskaplike kragmetings. Hulle het onder andere onlangs teen die Leeus-klub, Pirates, gespeel ter voorbereiding vir die Carltonbeker toernooi, wat later hierdie maand sal afskop.

Die afgelope naweek het Centurion na die Oosrand gereis om hul voorbereiding vir die Carltonbeker seisoen teen die sterk span van Brakpan rugbyklub te begin.

Brakpan het enkele weke gelede nog in die halfeindstryd van die Sibanye-Stillwater Superliga gespeel, so hulle was ’n baie goeie toets vir die span van Centurion.

Hoewel Brakpan dié klipharde stryd uiteindelik met 38-34 gewen het, kan Centurion tevrede voel dat hulle gereed lyk vir die strawwe Carltonbeker seisoen wat voorlê.

Centurion het teen rustyd nog voorgeloop op die telbord. Trouens, die wedstryd is eers in die laaste vyf minute vir die Oosranders beklink toe hulle die wendrie kon druk. Hoewel Jacques Potgieter se manne teleurgesteld sal wees dat hulle aan Brakpan die geleentheid gebied het om in die doodsnikke terug te bons, sal daar baie positiewe aspekte wees waarop hulle die res van die seisoen kan bou.

– Intussen het Harlequins ook begin om hul vere reg te skud vir die tweede deel van die 2026 seisoen. Die Blokkiestruie het die afgelope naweek Johannesburg toe gereis om in ’n vriendskaplike derby wedstryd teen die Leeus se eersteliga klub, Pirates, te speel.

Hoewel dit ’n vriendskaplike wedstryd was, was die SupaBeker op die spel in dié gereelde Jukskei-derby tussen twee van die oudste klubs in Gauteng.

Harlequins het gewys dat hulle onder hul nuwe afrigtingskorps vanjaar van rat wil verwissel deur Pirates met 38-17 te klop.

Die manne van Groenkloof het konstruktiewe, maar tog aanskoulike rugby gespeel en ses keer die doellyn oorgesteek vir die oorwinning.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button