Local sportSchool sportSport

Pretoria skole dra Noorde se vaandel by Noord-Suid skolerugby toernooi

Die jaar 2026 gaan een van die opwindendste skolerugby seisoene in ’n baie lang tyd oplewer, soos bevestig is met die uitslae van die gewilde jaarlikse Noord-Suid skolerugby toernooi, wat verlede week weer by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria aangebied is.

Tien oorwinnings, vier nederlae en een gelykop uitslag.

Dít was die bydrae van Pretoria-skole se eerste rugbyspanne by verlede week se Noord-Suid skolerugby toernooi, wat op die sportvelde van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) en Harlequins rugbyklub aangebied is.

Met hierdie uitslae in gedagte is dit nie onvanpas om die stelling te maak dat deelnemers uit Pretoria die vaandel vir die noorde gedra het by dié prestigeryke rugbyfees nie. Slegs Pretoria Boys High School, wat net by een wedstryd tydens die toernooi betrokke was, kon geen oorwinning behaal nie. Hulle het met 14-45 teen Paul Roos Gimnasium verloor.

Dit was Hoërskool Garsfontein, Affies en Hoërskool Montana wat die vlag vir die hoofstad se deelnemers hoog laat wapper het. Dié drie spanne het onoorwonne uit die toernooi getree.

Affies het in hul eerste wedstryd met die gesogte Hoër Landbouskool Oakdale uit Riversdal (28-17) afgereken en daarna op die laaste dag die Hoërskool Durbanville met 24-13 geklop.

Die Garsie Bere is as die Span van die Toernooi aangewys. In hul eerste wedstryd het die Garsies die sogenaamde “Jade Brigade” (verwysende na die kleur van hul truie) van Hoërskool Stellenberg met 21-20 geklop. Dié skool van Belville het vanjaar ’n skitterenede span en het twee weke gelede vir die eerste keer in 30 jaar met Paarl Gimnasium (20-19) afgereken, terwyl hulle ook op die laaste dag van die Noord-Suid toernooi vir een van die groot verrassings gesorg het toe hulle Grey Kollege van Bloemfontein met 26-20 geskok het.

Garsfontein was self verantwoordelik vir ’n skok-sege toe hulle op dag drie vir die eerste keer ooit met Paarl Boys High (31-28) kon afreken.

Dit lyk of Zwartkop weer ‘n goeie seisoen kan beleef en kan voortbou op hul sukses van verlede jaar, toe hulle 18 agtereenvolgende oorwinnings behaal het en net een keer aan die verloorkant was. Die Zwarries het teen beide die Oos-Vrystaatse skole, Voortrekker Hoërskool van Bethlehem en Hoërskool Witteberg, gespeel. Hulle het Voortrekker met 50-14 geklop, maar ongelukkig met 5-45 teen Wittenberg vasgeval.

Montana, wat in die Noordvaal Cup toernooi vanjaar na die Plaat-afdeling gepromoveer is, het gewys dat hulle ook gereed is vir dié uitdaging. Die Monties het tydens die Noord-Suid toernooi met Hoërskool Wesvalia (31-24) en Hoërskool Kempton Park (29-8) afgereken.

Hoewel Hoërskool Waterkloof die toernooi onoorwonne afgesluit het, was slegs hul eerste wedstryd teen Hoërskool Diamantveld (45-7) ’n oorwinning. In hul tweede kragmeting het die Klofies en Hoërskool Outeniqua van George die louere gedeel met die eindtelling op 24-elk.

Pretoria se twee oorblywende verteenwoordigers by die toernooi het albei gemende sukses met ’n oorwinning en ’n nederlaag gehad.

Die Hoërskool Menlopark het baie goed begin deur Boland Landbou met 46-28 pak te gee, maar moes ongelukkig op die laaste dag die knie buig (17-73) voor die aanslag van ’n gewonde Paarl Gimnasium.

Hoërskool Oos-Moot het in hul eerste wedstryd van die toenooi ’n taai stryd met 21-24 teen Wellington Hugenote verloor, maar daarna het hulle teruggebons om Hoërskool Strand met 33-18 te klop.

– In teenstelling met Affies en Garsfontein kon nie een van die top Noordvaal skole uit ander dele van Gauteng en Noordwes, twee oorwinnings behaal by die toernooi nie.

Hoërskool Monument, Helpmekaar Kollege en Hoërskool Rustenburg het albei een keer verloor en een keer gewen, terwyl Hoërskool dr. EG Jansen en Hoërskool Noordheuwel albei twee nederlae gely het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button