Local sportSchool sportSport

Garsie Bere klop Affies derde keer in vyf jaar

Hoërskool Garsfontein het hul jaarlikse tweestryd met die Afrikaanse Hoër Seunskool gewen en daarmee die skaal in hul guns geswaai sedert dié Pretoria derby ná 12 droeë jare in die post Covid era hervat is.

Dis nie elke skool noord van die Vaalrivier wat kan spog dat hulle die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) drie keer in vyf jaar op die rugbyveld kon klop nie.

Trouens, sover bekend het Hoërskool Garsfontein se Bere Saterdag op hul tuisveld die eerste teenstander uit die noorde van die land geword wat dit in die moderne era kon regkry toe hulle ’n aanskoulike en spannende stryd teen die Wit Bulle van Affies met 38-34 gewen het.

Daarmee het Lourenz de Jager en sy makkers in die voetspore van die Garsie Bere spanne van 2022 en 2023 gevolg, wat dié derby twee jaar agtereenvolgens kon wen, nadat dit hervat is ná ’n droogte van 12 jaar weens skole politiek.

Dit beteken dat Garsfontein nou met 3-2 voorloop teen Affies in die “nuwe era” van derbies tussen die twee skole. Affies het al vyf die eerste kragmetings tussen 1993 en 2010 gewen, voordat die groot 12 jaar droogte enige wedstryde tussen dié twee spanne verhoed het.

Soos verwag het Saterdag se skouspel weer skolerugby opgelewer wat elke puris van die spel op hierdie vlak se goedkeuring sou kry.

Ruan Fluks, losskakel van Garsfontein het die telbord aan die rol gesit het met ’n strafdoel binne die eerste twee minute van die wedstryd.

Neil de Kock, linkervleuel van Garsfontein, het die Garsie Bere se eerste van vyf drie gedruk in Saterdag se groot kragmeting teen Affies.
Foto: Joubert de Wet
Regtervleuel Yuvrah George (links) en heelagter Drewyn Baron het die Affies verdedigers laat bontstaan as hulle op die aanval is en hulle het elkeen reeds in die eerste helfte ’n drie gedruk om die telbord-druk op Affies te laat opbou tydens Saterdag se opwindende Pretoria derby.
Foto: Joubert de Wet

Vier minute later was dit Affies se glibberige skrumskakel, Fourie Roberts, wat die eerste drie van die dag gedruk het toe hy aan die spreekwoordelike kleinkantjie om geglip het, nadat sy voorspelers die momentum geskep het met dryfbewegings in die rooi gebied.

Daarna het die bekende gevaarlike agterste driehoek van die Garsie Bere egter toegeslaan om te help bou aan ’n voorsprong van 30-10 teen rustyd, wat uiteindelik die hekkie te hoog sou stel vir Affies om te oor te kom met hul terugvegpoging.

Linkervleuel Neil de Kock het eerste toegeslaan toe Fluks die Affies spelers verras het met ’n dwarsskop vanaf die regterkantste kantlyn. De Kock het dit bemeester om in die linkerhoek te druk.

Affies se linkervleuel, Joshua Gouws, se eerste drie van sy uiteindelike driekuns het kort daarna gevolg, maar hy en sy vennote in die Wit Bulle se agterste driehoek is sowat tien minute later uitoorlê deur die samespel van De Kock se vennote, Drewyn Baron en Yuvrah George, wat tot Baron se drie gelei het.

Twee minute later is loskopstut André van Wyk oor na goeie samespel tussen voor- en agterspelers van die Garsies en ’n minuut voor rustyd was dit George se beurt om in die hoek oor te duik nadat die Bere vinnig na regs geslaan het vanaf ’n losskrum.  

Die Affies span wat boedel oorgee moet nog gebore word en soos te wagte het die Wit Bulle direk na rustyd begin met hul poging om die skip om te draai. Hul woelige haker, Charl Els, het die eerste van sy tweekkuns gaan druk en daarna kon Gouws spasie vind om sy spoed te gebruik vir sy tweede drie.

Justin Blom, haker van Garsfonein, se drie vanaf ’n dryfbeweging het tydelik Affies se momentum gestuit en kort daarna het Fluks met ’n baie belangrike strafdoel geslaag, maar Gouws en Els was nog nie klaar nie en het hul bydraes onderskeidelik met ’n derde en tweede drie elk afgesluit.

Die wedstryd het in die doodsnikke in groot spanning geëindig, maar dit was die Bere se plaasvervanger skrumskakel, Dian van Aswegen, se oomblik van briljantheid met ’n skitterende duikslag waarmee hy Dandré Brink by die kantlyn uitgeduik het, wat ’n einde sou maak an Affies se aanslag.

– Intussen het die tweestryd tussen die twee skole in ’n volwaardige derby ontaard met rugby- en hokkiewedstryde vir die seuns, terwyl die Afrikaanse Hoër Meisieskool (AHMP) ook Saterdag op die hokkieveld met die Garsies se dogters kragte gemeet het.  Hoewel die Garsie Bere baas was in die stryd tussen die eerstespanne, kan Affies spog met 17 oorwinnings uit 19 rugbywedstryde. Op die hokkieveld het Affies se seuns ook oorheers en slegs hul o.14A seuns het teen Garsies verloor.

Die gesegde lui: ’n Foto spreek ’n duisend woorde…
Foto: Joubert de Wet
Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan sing die skoollied saam met hul ondersteuners en skoolmaats op die paviljoen ná Saterdag se oorwinning teen Affies.
Foto: Joubert de Wet

AHMP het onoorwonne uit die stryd getree op die hokkieveld, met slegs twee uit tien wedstryde wat gelykop geëindig het teen Garsies se dogters. Die twee skole se netbalspanne speel op Dinsdag 21 April teen mekaar in die Suzuki Netbal Power Series.   

– Ranglyste in skolerugby is jare al ’n omstrede onderwerp en daar is baie debat oor watter formule gebruik moet word om dié stokperdjie van ‘kenners’ te hanteer. Maar ten spyte van debat is dit ’n feit dat die eerstespanne van Garsfontein en Hoërskool Stellenberg tans, te midde van ’n baie interessante seisoen, meëding om die plek as Suid-Afrika se top skolerugby span en dat hierdie oorwinning van die Bere oor Affies hulle dalk ’n kortkp voor Stellenberg plaas.  As Garsfontein eerskomende naweek beide hul wedstryde by die Wildeklawer toernooi in Kimberley wen, behoort die nommer-een posisie ’n gegewe te wees op die meeste ranglyste wat slegs die prestasie van eerstespanne in ag neem.

Die Garsie Bere speel Vrydagaand (24 April) teen Paul Roos Gimnasium en op Maandag 27 April sal hulle kragte meet met Northwood High van Durban.

Affies se teenstanders by die Wildeklawer toernooi is Hoërskool Outeniqua van George (Saterdag 25 April) en Hoër Jongenskool Paarl, ook bekend as Paarl Boys’ High, op Maandag 27 April.

Seuns-hokkie aksie tussen Garsfontein en Affies.
Foto: Joubert de Wet

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button