Local sportSchool sportSport

Affies, Klofies onoorwonne by Wildeklawer toernooi, Garsies behaal gemengde sukses

Pretoria se drie verteenwoordigers by die afgelope naweek se prestigeryke Wildeklawer skolerugby toernooi in Kimberley kan tevrede terugkeer huistoe, nadat hulle vyf uit hul ses wedstryde kon wen by dié sportfees waar die room van die land se skole-talent in aksie was.

Die eerste rugbyspan van die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria (Affies) het hul seisoen weer behoorlik op koers gekry met twee baie indrukwekkende oorwinnings by die afgelope naweek se Wildeklawer toernooi in Kimberley, terwyl Hoërskool Waterkloof ook onoorwonne sal terugkeer huistoe ná twee klipharde kragmetings.

Ongelukkig vir die Hoërskool Garsfontein het hulle in die hoofwedstryd op die eerste dag van die toernooi net-net vasgeval in ’n baie taai en spannende stryd teen Paul Roos Gimnasium, maar hulle kon weer terugbons met ’n oorwinning op die laaste dag.

– Na ’n baie wisselvallige begin in die 2026 seisoen vir Affies, waarin hulle slegs vier uit agt wedstryde kon wen, het die Wit Bulle nuwe koers vir die res van hul seisoen gevind deur kookwater rugby in Kimberley te speel.

In die proses het hulle Hoërskool Outeniqua van George, wat vanjaar weer oor ’n puik span beskik en tot voor hul kragmeting met Affies nog net teen Paarl Boys High verloor het, heeltemal oorrompel in hul eerste wedstryd. Affies het nege drieë ingeryg om die Suid-Kapenaars met 55-26 te klop.

Aksie uit die wedstryd tussen Affies en Paarl Boys High.
Foto: Frans Lombard
Aksie uit die wedstryd tussen Affies en Paarl Boys High.
Foto: Frans Lombard

In Maandag se wedstryd het Affies die tweede Pretoria skool geword wat Hoër Jongenskool Paarl – beter bekend as Paarl Boys High – vanjaar kon klop, nadat Garsfontein tydens die Noord-Suid toernooi ’n historiese eerste oorwinning oor die seuns uit die Boland behaal het.

Affies het vyf drieë teen Paarl Boys High se vier gedruk om met 40-37 te wen in ’n baie opwindende wedstryd wat as vertoonvenster van Suid-Afrika se skolerugby beskou kan word. 

Hierdie oorwinning sal die seuns van Affies se moraal beslis weer op die regte plek kry, nadat hulle baie druk moes ervaar die afgelope tyd.

Dit was slegs Affies se derde oorwinning oor Paarl Boys High sedert 2010. Dis ook die tweede grootste telling wat ’n span van die Wit Bulle die afgelope 16 jaar teen Paarl Boys High kon aanteken naas 2024 se oorwinning van 43-21.

Aksie uit die wedstryd tussen Waterkloof en Westville Boys High School van Durban.
Foto: Frans Lombard
Aksie uit die wedstryd tussen Waterkloof en Westville Boys High School van Durban.
Foto: Frans Lombard

– Waterkloof kon ook voortbou op hul puik seisoen tot dusver, waarin hulle nog net in die heel eerste wedstryd teen Affies verloor het.

Die Klofies moes Saterdag in hul eerste wedstyrd teen Hoërskool Durbanville hard veg om ’n oorwinning van 22-21 te behaal. Net soos hul bure van Hoërskool Stellenberg het dié skool uit Kaapstad se noordelike voorstede vanjaar ook ’n baie goeie span wat al met groot name soos Boland Landbouskool en die South African College High School (SACS) afgereken het.

Maandag het die Klofies hul toernooi afgesluit met nóg ’n taai stryd teen Westville Boys High School van Durban, wat al vanjaar met spogskole soos Maritzburg College, Hoërskool Framesby uit die Oos-Kaap en Helpmekaar Kollege afgereken het.

Waterkloof het dié wedstryd met 31-28 gewen.

Aksie van die wedstryd tussen Garsfontein en Paul Roos Gimnasium.
Foto: Frans Lombard
Aksie van die wedstryd tussen Garsfontein en Northwood High.
Foto: Frans Lombard

– Garsfontein het in hul eerste wedstryd teen Paul Roos Gimnasium baie goed begin en na 25 minute se spel wou dit lyk of hulle ’n tweede top skool uit die Boland gaan afslag, toe hulle met 15-0 voorgeloop het. Ongelukkig het hulle die seuns van Stellenbosch toegelaat om laat in die eerste helfte en weer vroeg in in die tweede helfte terug te kom in die wedstyd met twee drieë.

Nog ’n drie aan elke span en ’n strafdoel vir die Garsies het die tafel gedek vir ’n spannende einde van dié wedstryd met die telling op 18-21 in die guns van Paul Roos.  Die Garsie Bere het ’n redelike maklike kans om ’n gelykop uitslag af te dwing van die hand gewys deur kantlyn toe te skop in die doodsnikke van die wedstryd, maar – soos vroeër in die wedstryd – het ’n 50-50 beslissing nie in hul guns uitgewerk nie en kon Paul Roos as oorwinnaars van die veld stap.

Maandag se wedstryd teen Northwood van Durban het vir die Bere net die teenoorgestelde verloop gehad as hul eerste kragmeting van die toernooi. Die seuns van Durban het hul vinnige en vaardige agterspelers goed ingespan in die eerste helfte en vier keer gaan druk om teen rustyd met 28-14 voor te loop.

Die Garsie Bere het egter karakter en veggees gewys en met positiewe spel drie keer gaan druk in die tweede skof, terwyl die Durbaniete slegs ’n strafdoel by hul totaal kon voeg. Sodoende kon Garsfontein hul toernooi met ’n oorwinning van 33-31 afsluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button