Garsies, Klofies skop Noordvaal Cup af met goeie oorwinnings, Parkies verloor teen verwagting
Terwyl Garsfontein en Waterkloof se rugbyspanne die afgelope naweek hul Beker-afdeling veldtogte in die Noordvaal Cup toernooi met goeie oorwinnings afgeskop het, het Menlopark teen alle verwagting vasgeval teen een van die nuwelinge in dié liga.
Met al die hoëprofiel nasionale skolerugby toernooie agter die rug het die fokus van die skolerugby seisoen in die noordelike provinsies die afgelope naweek verskuif na die Noordvaal Cup, wat in alle erns afgeskop het.
Soos gewoonlik het die top Beker-afdeling van hierdie toernooi sommer in week een reeds ’n verrassing of twee opgelewer en een van die drie Pretoria skole in dié liga was aan die verkeerde kant van só ’n verrassing, terwyl die ander plaaslike deelnemers stewige oorwinnings behaal het.
– Hoërskool Garsfontein en Helpmekaar Kollege van Johannesburg het hul veldtogte in dié gesogte liga afgeskop met ’n herhaling van verlede jaar se eindsytryd, waarin hulle ook teen mekaar te staan gekom het.
Soos in verlede jaar se eindstryd het die Johannesburgers ook vir 70 minute lank alles behalwe die kombuiswasbak in die stryd gewerp, maar dit was steeds nie genoeg om die verdedigende kampioen ore aan te sit nie en Garsfontein het uiteindelik maklik met 49-24 gewen.

Foto: Frans Lombard
Die Garsie Bere laat mens deesdae dink aan die ou Noord-Transvaal span van die 1970’s, wat gewoonlik in die eerste helfte die aanslag van hul teenstanders kalm en bedaard geabsorbeer het, terwyl hulle besig was met ’n “sagmaak” proses. Dan, as die teenstanders in die tweede helfte begin fokus verloor, skop die vaarigheid en fiksheid in en die oorwinning word beklink met superieure fiksheid en kliniese spel.
Saterdag het Helpmekaar in die eerste halfuur kruis en dwars oor die veld aangeval en twee keer gaan druk, maar toe linkervleuel Drewyn Baron vyf minute voor rustyd ’n beweging van 75 meter in die linkerkantste hoek afrond, was die skrif aan die muur vir die besoekers.
Nog twee drieë weerskante van rustyd het die Bere se voorsprong gerek en daarna het die tuisspan met selfvertroue baljaar om hul telling tot net kort van ’n vyftigtal op te stoot. Die Helpies het aanhou veg en hul twee drieë in die laaste 15 minute het aan hulle ’n belangrike bonuspunt besorg.

Foto: Action Paparazzi
– Tussen die Platinum myne van Noordwes in Rustenburg was dit Hoërskool Waterkloof wat hard moes veg om die onderskatte span van Hoërskool Rustenburg uiteindelik met 31-10 te klop.
Die telling is egter nie heeltemal ’n getroue weergawe van dit wat op die veld gebeur het nie, want die Klofies moes baie hard veg om die Rusties op hul tuisveld om te dop.
Teen rustyd was die telling nog 5-3 in Klofies se guns ná ’n baie taai eerste skof. Die tuisspan het boonop die eerste kwartier van die tweede helfte oorheers en ná aanhoudende aanvallende spel het hulle uiteindelik gaan druk om die voortou te neem.
Hierna het Waterkloof die inisiatief oorgeneem en hul flanke en onderkaptein, Hugo Dercksen, se eerste drie het die gety begin draai. Dit was egter losskakel Liam Schutte se individuele poging, nadat hy ’n skop van die Rusties se linkervleuel afgestorm het, wat die druk op die tuisspan verhoog het.
Nog twee drieë in die laaste vyf minute het die uitslag verseël en aan die Klofies vyf waardevolle ligapunte in ’n weg-wedstryd besorg.

Foto: Action Paparazzi
– Net toe dit wou lyk of Hoërskool Middelburg nie die mas gaan opkom in die top Beker-afdeling van die Noordvaal Cup kompetiisie nie, het hulle Saterdag vir een van die eerste groot verassings van dié liga gesorg deur Hoërkool Menlopark met 26-25 te klop.
Middelburg het tot duver vanjaar gesukkel en sesde geëindig in die NWU Skolesport reeks, waarin Menlo die eindstryd gehaal het. Saterdag op hul tuisveld in Mpumalanga het ’n begeesterde Middies, wat duidelik op ’n missie is om hulself te probeer bewys, egter op die Parkies gewag.
Die seuns van Mpumalanga het van die begin af met ’n positiewe aanslag gespeel en hul eerste drie het juis gekom toe hulle ’n aanval uit hul eie kwartgebied begin het en met skitterspel deur hul agterspelers uiteindelik ná ’n beweging van 75 meter kon druk.
Menlo het teruggeveg met ’n gestruktureerde drie vanaf ’n lynstaan-dryfbeweging, maar kort daarna die druk op hulself geplaas toe Middies ’n hanteerfout uitgebuit het om weer te druk. Nóg ’n kragdrie deur die Pakies het die spanne met die telling op 12-10 in Middies se guns laat omdraai.
Middelburg het aanvanklik die inisiatief oorgeneem met twee drieë vroeg in die tweede helfte en daarna moes Menlopark probeer terugveg. Hulle het dit byna reggekry met twee drieë van hul eie, maar ongelukkig was hul skopwerk na die pale nie na wense nie, met net een van die vier drieë wat verdoel is en aan Middelburg ’n naelskraapse oorwinning besorg het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
