Garsies klop Klofies, Parkies terug op die wenpad
Terwyl Garsfontein diep moes delf om Waterkloof Saterdag in die Beker-afdeling van die Noordvaal Cup toernooi te klop, het Menlopark teruggebons na hul nederlaag in die eerste week van die kompetisie deur Helpmekaar Kollege pakslae te gee.
Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspanne was die afgelope Saterdag albei vir die tweede keer vanjaar betrokke in ’n Pretoria skolerugby-derby waaroor hul ondersteuners nog lank gaan praat, nadat beide skole ook reeds vroeër in epiese tweestryde met die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) betrokke was.
Dié derby, waartydens die twee skole mekaar in ’n ligabepaling van die Noordvaal Cup toernooi se Beker-afdeling gepak het, het aan elke moontlike verwagting van só ’n skole stryd voldoen.

Foto: Joubert De Wet
Voor ’n volgepakte paviljoen op Waterkloof se sportterrein was daar eersteklas aksie, opwinding en spanning en dit was vir die neutrale waarnemer eintlik jammer dat daar ’n wenner aan die einde van dié skouspel moes wees. Uiteindelik was dit Garsfontein wat baie verlig sou wees toe hulle met die telling op 24-18 in hul guns die eindfluitjie kon hoor blaas.
Terwyl daar vooraf groot verwagtinge was oor die gevaar wat Garsfontein se agterlyn – en veral hul agterste driehoek – vir enige teenstander inhou, het die Garsie Bere egter hierdie keer gewys dat hulle ’n gebalanseerde span is met ’n pak voorspelers wat ook die deurslag kan gee in ’n taai stryd soos hierdie.

Foto: Frans Lombard

Foto: Joubert De Wet
Die Klofies se verdediging was van die afskop af baie effektief en die Garsies is min beweegruimte gegee as die bal agterlangs gedra is. Ná ’n vroeë strafdoel deur Klofies se Liam Schutte moes die toeskouers wag tot byna ’n halfuur se aksie voor hulle die eerste drie kon aanskou.
Dit was juis Garsies se goeie skrumwerk wat aan hulle die regterskouer en gevolglike ruimte verskaf het om aan buitesenter Joshua Gouws die geleentheid te bied om deur ’n gaping te glip, die laaste verdediger te trek en daarna sy heelagter, Drewyn Baron, weg te stuur vir die eerste drie van die wedstryd.


Tien minute later was dit Klofies se heelagter, Alexander Griesel, wat sy spoed en vernuf vertoon het toe hy sy teenstanders met ’n sterk lopie geklop het om in die linkerhoek te druk.
Die tuisspan het kortstondig hul halftyd voorsprong van 8-7 vergroot toe die slot JJ Brits kon afrond ná puik dryfwerk deur verskeie fases, maar die Garsies het kort daarna dieselfde gedoen met haker Stefan van der Vyfer wat vir die afrondingswerk verantwoordelik was.
Halfpad deur die tweede helfte het Garsfontein weer ’n deurbraak gehad toe hul slot JJ Fourie onder die pale kon oordryf na ’n tydperk van aanhoudende aanvallende spel deur die besoekers.

Foto: Frans Lombard
Klofies het egter geweier om oor te gee en Schutte se drie tien minute voor die einde het weer gekom ná puik dryfwerk van die voorspelers, waarna die bal vinnig wyd gespeel is.
Met die spanning wat opgebou het, het Waterkloof alles in die stryd gewerp en ’n paar keer naby aan die doellyn gekom, maar die besoekers se verdediging het gehou. Ironies genoeg was dit ’n strafdoel in die doodsnikke deur Ruan Fluks, wat die oorwinning vir die Bere beklink het, want dit was uiteindelik sy skopskoen wat die verskil tussen die twee spanne gemaak het. Albei spanne het drie keer gaan druk, maar terwyl Fluks geen foute met sy doelskoppe gemaak het nie, kon Klofies nie een van hul drieë verdoel nie.
– Nie ver van die derby tussen die Klofies en Garsies nie, het Die Hoërskool Menlopark na hul verrassende nederlaag verlede week teruggebons toe hulle Helpmekaar Kollege van Johannesburg met 38-31 geklop het.
Die Parkies het aanvanklik groot geskrik en halfpad deur die eerste helfte het die besoekers met 17-7 voorgeloop. Menlopark kon egter terugveg en dié agterstand is teen rustyd uitgewis met ’n strafdoel en ’n verdoelde drie.

Foto: Riaan de Bruyn
Helpmekaar het in die tweede helfte weer toegeslaan en met tien minute se speeltyd oor was hulle gerieflik voor. Hierna het die tuisspan egter hul snelrat gevind en daarin geslaag om die doellyn nog drie keer in daardie laaste tien minute oor te steek om hul veldtog in die toernooi weer op koers te kry.
– In ’n herhaling van die onlangse eindstryd van die NWU Skolereeks, pak Menlopark en Waterkloof mekaar eerskomende Saterdag op eersgenoemde se tuisveld in hul Noordvaal Cup ligabepaling.
– Garsfontein ontmoet Hoërskool Noordheuwel eerskomende Saterdag op hul tuisveld in Pretoria.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
