Tiener atleet van Affies skuur skouer met wêreldsterre by aflos kampioenskap
Een van Suid-Afrika se mees belowende jong atlete, wat tans nog ’n graad-11 leerling aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria is, het tydens Wêreldatletiek se onlangse aflos-kampioenskap in Botswana gewys dat sy nie terug hoef te staan vir wêreldsterre op die atletiekbaan nie.
Sy het in Januarie vanjaar eers 17-jaar oud geword, maar Christi Loggenberg van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) het onlangs die voorreg gehad om ’n atletiek-ervaring te beleef wat bittermin skooldogters haar sal kan nadoen.
Loggenberg was een van net drie skoliere wat ingesluit is in Suid-Afrika se nasionale span vir deelname aan Wêreldatletiek se aflos-kampioenskap wat in Gaborone, die hoofstad van Suid-Afrika se buurland, Botswana, aangebied is. Altesaam 723 atlete uit 40 lande vanoor die hele wêreld het in Gaborone saamgetrek vir dié byeenkoms.
Sy was ook die enigste van dié skooldogters wat wel in aksie was tydens die kampioenskap, toe sy deel was van die Suid-Afrikaanse span wat in die eerste twee rondtes van die 4x400m aflos wedlope vir vroue gekompeteer het. Die span het ongelukkig die finale rondtes net-net misgeloop.

Foto: Charmaine Visser
Drie van Loggenberg se spanmaats in Botswana, Hannah van Niekerk, Marlie Viljoen en Jada van Staden (vervang Viljoen in tweede rondte) is almal ook Pretorianers en verbonde aan Tuks se atletiek klub, terwyl Isabella Gunter van Hoërskool Montana as reserwe saam met die span was, maar nie deelgeneem het nie.
Loggenberg en Van Niekerk (ook ’n oud-Affie) word albei afgerig deur die bekende en bekroonde Maritza Coetzee, atletiekdirekteur van AHMP.
Met haar prestasies as 400m atleet tydens die afgelope atletiekseisoen het Loggenberg die nasionale keurders geen ander keuse gelaat as om haar vir die SA-span te kies nie. Sy het skoonskip gemaak in die 400m wedloop by elke groot byeenkoms waaraan sy vanjaar deelgeneem het. Ná goue medaljes by die Pretoria A-bond interhoër (53,43s – ook ’n nuwe A-bond rekord) en die Atletiek Gauteng-Noord (AGN) kampioenskap (53,07s) het haar seisoen ’n hoogtepunt bereik by Atletiek Suid-Afrika (ASA) se Junior- kampioenskap. By dié kampioenskap in Germiston het sy nie net goud gewen nie, maar ook ’n nuwe Suid-Afrikaanse o.18 rekord van 52,33s opgestel.

Foto: Koos Venter
Hierdie rekord-tyd is steeds haar persoonlike beste en daarmee het sy ook gekwalifiseer om in Augustus vanjaar aan die junior wêreldkampioenskap in Amerika deel te neem. Haar naam verskyn reeds op die voorlopige spanlys vir dié kampioenskap, wat die afgelope week deur ASA bekendgemaak is.
Loggenberg se verstommende veelsydigheid is opvallend, want sy blink ook uit in die korter naellope (100m en 200m), terwyl sy as hekkies-atleet teen die heel bestes kan kompeteer. Sy het vanjaar by beide die AGN kampioenskap en die ASA Junior kampioenskap silwer medaljes in die 400m hekkies gewen, met net Die Hoërskool Menlopark se ster-atleet, Megan Nieman, wat haar kon klop.
Sy is egter nie die enigste lid van die Loggenberg huishouding wat op die sportveld uitblink nie. Christi is een van ’n drieling. Haar suster, Nina, is ook ’n puik atleet wat veral in velditems uitblink. Hul broer, Nico, beoefen sy talent aan die ander kant van Lynnwoodweg by die Afrikaanse Hoër Seunskool veral op die krieketveld. Hy word beskou as een van Affies se mees belowende krieketspelers, terwyl hy ook ’n kranige gholfspeler is.

Foto: Charmaine Visser
Haar deelname aan die aflos wêreldkampioenskap in Botswana was vir Loggenberg nie net ’n hoogtepunt as atleet nie, maar ook ’n persoonlike triomf en ervaring wat goud werd kan wees later in haar loopbaan. Om as tienermeisie in dieselfde wedloop as wêreldsterre te hardloop is ’n droom wat vir haar waar geword het. Sy kon dit byna nie glo toe sy in die eerste rondte tydens haar uitdun langs die Olimpiese kampioen van Nederland, Lieke Klaver, moes aantree nie.
“Sy is een van my helde wat al so baie as atleet vermag het. Ek was maar erg op my senuwees om teen haar te moes meeding,” het Loggenberg aan Rekord gesê.
Ná dié hoogtepunt fokus Loggenberg nou eers op die komende eksamen, aangesien haar graad-11 jaarpunte belangrik is vir haar toekomsplanne om oor twee jaar vir ’n BCom graad in te skryf – hopelik by Tukkies, waar sy ook dan steeds haar atletiekloopbaan onder Coetzee se leiding kan voortsit.
Lieke Klaver is byna tien jaar ouer as Loggenberg en die kans is goed dat sy twee weke gelede nie geweet het wie dié jong meisie van Pretoria is wat daar in Gaberone langs haar gehardloop het nie. Maar as Loggenberg se prestasie-grafiek aanhou groei soos die afgelope paar jaar, sal Klaver én die res van die wêreld se atletiek-gemeenskap wel binnekort kennis neem van dié lenige Affie en haar vermoëns op die atletiekbaan.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
