Local sportSchool sportSport

Nuwe rekordgetal Bulletjies in aksie by Midstream se Bulletjiedag

Die jaarlikse Bulletjierugby dag by die Midstream Ridge Laerskool is die afgelope naweek aangebied en nuwe rekords het gespat weens die groot getalle jong Bulletjies wat in aksie was op die rugbyveld.

As daar ooit twyfel was dat elke jong seuntjie noord van die Jukskeirivier graag eendag ’n Blou Bul wil wees, was die afgelope naweek se Bulletjiedag by die Midstream Ridge Laerskool ’n baie duidelike bewys hiervan.

Die dag, aangebied deur die Blou Bulle Laerskole Rugbyvereniging in samewerking met Midstream Ridge Laerskool, het vanjaar nuwe hoogtes bereik met nóg ’n rekordgetal van 4 572 jong rugbyspelers wat op dié skool se rugbyvelde in aksie was.

Altesaam 446 spanne van 44 skole het deelgeneem, terwyl 448 wedstryde deur die loop van die dag gespeel is. Die fees het nie net gegroei in getalle nie, maar ook in impak, geesdrif en die belangrike rol wat dit speel in die ontwikkeling van jong rugbyspelers.

Die Blou Bulle het reeds oor baie jare ’n platform geskep wat jong spelers op ’n veilige, professionele en genotvolle manier aan rugby blootstel, en hierdie jaar se sukses het weer eens gewys hoe sterk daardie grondslag is.

Vanjaar se Bulletjiedag was ekstra spesiaal aangesien dit die eerste groot fees was waar die nuwe SARU-goedgekeurde T1-rugbyformaat ten volle toegepas is. Hierdie stelsel gaan landswyd geïmplementeer word.  

Volgens die nuwe voorsitter van Bulletjie-rugby, Esjé Esterhuyse, is die groei van jong rugby iets wat besonders na aan sy hart lê.

“Die implementering van T1-rugby bevestig net weer die ongelooflike werk wat reeds in die Blou Bulle-streek gedoen word. Ons het die passie, die strukture en die geleentheid om duisende jong spelers aan rugby bloot te stel op ’n manier wat veilig, professioneel en ongelooflik lekker is. Om deel te wees van ’n dag waar soveel kinders die spel met glimlagte en opgewondenheid geniet, maak my ongelooflik trots,” het hy opgemerk.

Die dag het nie net oor rugby gegaan nie, maar ook oor families, gemeenskappe en die skep van herinneringe. Ouers, ondersteuners en jong spelers kon die aksie en vermaak saam geniet.

Met OUTsurance as hoofborg en die voortdurende ondersteuning van die Blou Bulle Laerskole Rugbyvereniging, groei die Midstream Bulletjiedag jaarliks. Saterdag se fees is amptelik die grootste Bulletjiedag nóg wat op ’n skoolterrein deur die Blou Bulle Laerskole Rugbyvereniging aangebied is.

Vir die organiseerders gaan dit oor veel meer as net getalle. Dit gaan oor die bou van geleenthede vir elke kind, die ontwikkeling van karakter en die liefde vir die spel wat reeds op ’n jong ouderdom begin wortelskiet. Vandag se bulletjies is immers môre se rugbyhelde in die land se groot stadions.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button