Groot seges vir Garsies en Klofies in Noordvaal Cup, Affies klop KES in Johannesburg
Garsfontein en Waterkloof het die afgelope naweek albei met vyftigtalle onderstreep dat hulle saam met Monument drie van die vroeë gunstelinge moet wees om te kwalifiseer vir die uitspeelrondtes van die Noordvaal Cup toernooi se Beker-afdeling.
Halfpad deur die ligabepalings in die Beker-afdeling van die VirSeker Noordvaal Cup skolerugby toernooi lyk dit of Hoërskool Garsfontein, Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Monument van Krugersdorp besig is om ’n gaping op te bou tussen hulle en die res van die deelnemers in die liga, nadat al drie spanne die afgelope naweek bonuspunt oorwinnings behaal het.
– Op Berepark in Garsfontein het die Garsies en Die Hoërskool Menlopark mekaar gepak in die laaste Pretoria derby van die toernooi se ligafase, wat oorheers is deur die tuisspan, soos die eindtelling van 52-20 in hul guns getuig.
Hoewel Menlo eerste bloed geruik het en ná twee strafdoele van Willie Pieterse met 6-0 voor was, het die tuisspan se gevaarlike agterlyn kort daarna hul ritme gevind. ’n Dominerende skrum het die nou reeds bekende kombinasie tussen regtervleuel Yuvrah George en heelagter Drewyn Baron in staat gestel om die Parkie-verdediging aan flarde te ruk vir die eerste drie van die wedstryd.



Daarna het die Garsies se druk te veel geword vir Menlo en deur bloot die besoekers se foute uit te buit kon die tuisspan hul bonuspunt-drie reeds na 22 minute se aksie gaan druk.
Die Parkies het probeer terugveg, maar ’n kombinasie van te veel foute onder druk en die Garsies se kliniese spel het die rustydtelling op 38-13 te staan gebring, nadat die tuisspan se linkervleuel, Neil de Kock sy driekuns in die doodsnikke van die eerste skof voltooi het.
Ten spyte van die groot punteverskil het Menlopark nooit gaan lê nie en met positiewe spel kon hulle selfs vir ’n groot deel van die tweede helfte die inisiatief oorneem op die aanval. Daarvoor is hulle met twee drieë beloon, wat die tweede skof baie meer gelykop gemaak het, aangesien die Garsies ook net twee keer die doellyn kon haal.



Menlopark is nou onder druk na drie nederlae in hul eerste vier wedstryde. Dinge raak ook nie makliker nie, aangesien hulle volgende teenstander die onoorwonne Hoërskool Monument is, wat hulle eerskomende naweek in ’n bepaling in Krugersdorp moet pak.
– Dis natuurlik ’n gevaarlike speletjie om so vroeg in die seisoen voorspellings te maak en skolerugby is só onvoorspelbaar dat enigiets moontlik is, maar ’n mens kan nie anders as om te glo dat Garsfontein, Waterkloof en Monument onder die gunstelinge tel om vanjaar vir die halfeindrondte in die Beker-afdeling van die Noordvaal Cup toernooi te kwalifiseer nie. Die wedloop om die vierde kandidaat vir hierdie uitspeelfase te bepaal is nog ’n raaisel en daar sal waarskynlik ’n groot stryd tussen ’n paar kandidate wees om by die drie gunstelinge aan te sluit.
Daar is natuurlik ook ’n ander faktor wat in die tweede deel van die seisoen ’n invloed op sake kan hê. Garsfontein het byvoorbeeld tans 12 spelers in die Blou Bulle se Cravenweek, Akademieweek en o.17 groepe. Soos die verlede al bewys het kan beserings, asook moontlike betrokkenheid by nasionale skolespanne, ’n groot uitdaging vir ’n skool soos Garsfontein – en selfs Waterkloof – se diepte wees in die peilvak van die toernooi.


– Waterkloof het op hul tuisveld die nuweling in dié liga, Hoërskool Middelburg, se stertvere gepluk met ’n oorwinning van 52-26, nadat die span van Mpmalanga die toernooi met drie agtereenvolgende oorwinnings afgeskop het.
Die Klofies het hul voorneme om aanvallende rugby te speel sommer vroeg laat blyk met linkervleuel Jacques Janse van Rensburg se drie vanaf die eerste begewing ná die afskop.
Toe die Klofies se heelagter, Alexander Griesel, ’n minuut later weer gaan druk, was die besoekers onder druk en toe kaptein en senter Meyer Pretorius die derde lid van die Blou Tornado word om binne die eerste ses minute die doellyn oorsteek, het dié druk in ’n krisis verander.
Dié krisis is byna man-alleen deur die Middies se agtsteman, Sifiso Hlungwane, hanteer met ’n driekuns voor rustyd, maar Griesel se tweede drie het die bonuspunt vir die Klofies verseël en hul voorsprong teen die omdraaislag op 26-19 te staan gebring.
Middelburg het hard probeer in die tweede helfte, maar die Klofies se positiewe spel het hul geesdrif gedemp. Soos in die eerste helfte het die tuisspan weer vroeg skade aangerig met drie drieë in tien minute, waarna die opdraende stryd vir die besoekers net te groot was. Hulle kon darem hul vierde drie gaan druk vir ’n baie belangrike bonuspunt.
– Affies het die naweek Johannesburg toe gereis om King Edward Shool (KES) op hul tuisveld daar tussen die herehuise in Houghton aan te vat.
Die Pretorianers het agt drieë ingeryg om uiteindelik met 46-28 te wen. Dit was Affies se sesde agtereenvolgende oorwinning oor KES en ook die 16de keer wat hulle die Johannesburgers kon oorrompel in die 18 kragmetings waarby die twee skole betrokke was sedert hul eerste ontmoeting in 1997.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
