Local sportSport

Naka Bulle klop Tuks in spannende “stryd van die kampioene”

Na groot afwagting het die stryd tussen die houers van Suid-Afrika se twee belangrikste klubrugby kampioenskaptitels, Tuks en Naka Bulle, mekaar die afgelope naweek ontmoet in ’n eersterondte Carltonbeker ligawedstryd om tydelik die spogregte te verkry oor wie tans die beste klubspan in die land is.

Ná verlede week se onderbreking in Carltonbeker klubrugby aksie het die grootste hoogtepunt tot dusver hierdie seisoen Saterdag aangebreek met Tuks, die Varsitybeker kampioen, wat Naka Bulle, die Gold Cup kampioen, op hul tuisveld op die Tuks sportkampus aangevat het.

Uiteindelik was dit die manne van die Moot wat die studente in ’n baie opwindende en spannende stryd met 38-33 geklop het. Daarmee het Naka Bulle nie net Tuks se onoorwonne rekord in vanjaar se Carltonbeker toernooi gebreek nie, maar ook die spogregte as die land se beste klub verkry én weer bewys dat gemeenskapsklubs die toekoms van klubrugby is.

Intussen het die “nuwe” Centurion met hul oorwinning van 55-40 oor die Grizzlies van Tuine die afgelope naweek die enigste onoorwonne span in die liga geword. Jacques Potgieter se manne kom eerskomende naweek voor ’n groot uitdaging te staan wanneer hulle Tuks aanvat in die laaste ligabepalings van die toernooi se eerste rondte.

Behalwe hul onoorwonne rekord wat op die spel is, kan Centurion ook met ’n oorwinning oor die studente seker maak dat hulle vir die eerste keer ooit die Lucas Strachan skild verower. Dié trofee word jaarliks toegeken aan die klub wat aan die einde van die eerste rondte bo aan die punteleer is.

Beide Tuks en Naka Bulle kan ook nog dié trofee inpalm. Tuks sal met Centurion moet afreken, terwyl Naka Bulle hul wedstryd teen Harlequins oortuigend moet wen, terwyl hulle sal hoop dat Tuks met Centurion afreken, maar òf nie ’n groot telling aanteken om hul punteverskil te verbeter nie, òf wen sonder om ’n bonuspunt vir vier drieë te verdien.

– Op die Tuks sportkampus was dit gou duidelik dat die stryd tussen die twee nasionale kampioene bepaal sou word deur faktore soos wie die oorhand in die vaste fasette sou hê, sowel as watter span se verdediging die beste georganiseerd sou wees.

Die besoekers het hul skrumkrag reeds vroeg vertoon toe die Bezuidenhout broers, Wiehan en Cassie, saam met die strydros Christoff Crail op haker, hul teenstanders in trurat gehad het om aan Marco van Baalen die kans te bied om ’n maklike oorstoort-drie af te rond.

Kort daarna het regtervleuel, Dennis Obi, Tuks se rekening geopen met ’n drie in die hoek. Die 31-jarige Crail het met ’n solo lopie van 40 meter gewys hy het nog baie vaart in die bene toe hy vir die hele Tuks span hakskene gewys het om te druk, nadat hy op volspoed in besit gestel is in gebroke spel.

Tuks het sake gelyk gemaak met linkervleuel, Van Reenen Kruger, se se drie. Daarna het elke span die kans gekry om met die voorspelers oor te dryf, wat die telling teen rustyd op 19-elk gelyk gemaak het.

Die besoekers se oorheersing voorlangs en hul goeie interaktiewe spel tussen voor- en agterspelers het veroorsaak dat  hulle in die eerste twintig minute van die tweede skof drie keer kon gaan druk om ’n voorsprong van 19 punte op te bou.

Soos dit ’n kampioenspan betaam het Tuks egter teruggeveg en twee drieë in die laaste agt minute het uiteindelik veroorsaak dat die wedstryd op ’n spannende noot geëindig het. In die laaste sekondes wou dit selfs lyk of Tuks die knoop kon deurhak toe hulle hul teenstanders met ’n langafstand aanvalsbeweging oorhoops gehad het, maar puik verdediging deur losskakel Hansie Graaff, waartydens hy sy ervaring én die spoed in sy 36-jarige bene gewys het, kon die Gold Cup kampioen se basse red.

– In Centurion het die tuisspan sommer gou hul planne duidelik gemaak toe die bal met die eerste moontlike geleentheid wyd gespeel is om regtervleuel Keith Mlaudzi in staat te stel om die telbord aan die rol te kry.

Die Grizzlies het oudergewoonte byna dadelik terugegslaan met heelagter PJ Bezuidenhout se drie en kort daarna selfs tydelik die voortou geneem met agtsteman Hugo Viljoen se drie.

Mlaudzi se tweede drie ná ’n langafstand beweging wat begin is deur Centurion se ramkat-agtsteman, Dean Malherbe, het egter die gang van die wedstryd verander. ’n Oorstoot drie kort voor rustyd het die spanne laat water drink met die telling op 31-12 in die guns van die tuisspan.

Die Grizzlies kon nie ’n antwoord vind vir Centurion se oorheersing in die vaste fasette nie en goeie skrumwerk het tot die tuisspan se sesde drie kort na rustyd gelei.

Hoewel die besoekers probeer het om terug te veg, is hul taak bemoeilik deur die feit dat hulle voorlangs oorheers is, terwyl swak verdediging aan Centurion nóg twee drieë besorg het.

André Botes en sy manne het egter nie opgegee nie en aanhou veg tot die einde. Daarvoor is hule beloon met nog drie drieë, wat ook die bonuspunt verseker het. Ongelukkig het hulle self nog ’n paar drieë afgestaan, wat aan Centurion die kans gebied het om hul vyftigtal te behaal.

Harlequins se tweedespan na hul oorwinning oor TUT. Foto: Jorina Raath

– Harlequins se tweedespan het Saterdag teen TUT se eerstes gespeel en gemaklik gewen.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button