Garsies maak groot standpunt teen Monnas
Garsfontein is na hul reuse oorwinning die afgelope naweek oor Monument nou die enigste onoorwonne span in die Beker-afdeling van die Noordvaal Cup skolerugby toernooi.
Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan het die afgelope naweek ’n baie duidelike waarskuwing aan al hul uitdagers in die Noordvaal Cup se Beker-afdeling gestuur toe hulle een van die ander vroeë gunstelinge in die kompetisie, Hoërskool Monument, met 61-32 pakslae gegee het.
Die Garsie Bere het ’n knuppel in die hoenderhok gegooi met dié oortuigende oorwinning op Monnas se tuisveld in Krugersdorp.
Met dié sege het die verdedigende kampioen nie net Monument se onoorwonne rekord in vanjaar se toernooi beëindig nie, maar ook hul eie posisie bo aan die punteleer verstewig. In die proses het Sylverter Booysen se span ook Monnas se reeks van tien agtereenvolgende oorwinnings bederf.
Weens Monnas se puik seisoen tot dusver is daar vooraf verwag dat Saterdag se wedstryd waarskynlik taai en spannend sou wees. Die twee spanne se aanslag en opwindende speelstyle, waarvolgens albei daarvan hou om die bal lug te gee, het egter gesorg dat die wedstyrd 13 drieë opgelewer het.
Die Garsies het eerste bloed geruik toe hul kaptein, JJ Fourie, die bal by ’n losskrum opgepik het en sowat 30 meter onder die verdedigers uitgenael het om onder die pale oor te duik.



Monnas het die tempo versnel en ’n paar gapings gevind, wat hulle in staat gestel het om drie keer voor rustyd te druk, maar die Garsie Bere het telkens teruggeslaan. Dit was veral hul heelagter, Drewyn Baron, wat weer gewys het dat hy nie maklik gekeer word as hy spasie op die aanval het nie en hy is twee keer oor die doellyn om die gaping op die telbord kleiner te maak.
Teen rustyd was Monnas met 24-21 voor, danksy die strafdoel wat hulle vroeg in die wedstryd behaal het.
Soos mens van die Garsies gewoond geraak het, het hulle in die tweede helfte die skroewe voorlangs stywer begin vasdraai, terwyl hulle agterlangs weer die tempo opgejaag het. Aanvalle vanaf enige plek op die veld het gelei tot drieë deur linkervleuel Neil de Kock, asook Fourie se tweede en Baron se derde.
Hoewel die tuisspan se skrumskakel, Morné Noble, halfpad deur die tweede skof met ’n goeie individuele pogig gaan druk het, was sy span se wind teen daardie tyd uit en hul verdediging het verkrummel.
Die Bere het nóg drie keer gaan druk – wat Baron se vierde drie insluit – om uiteindelik die sestigtal op die telbord te plaas. Beslis ’n uitslag wat nie vriend of vyand vooraf sou voorspel het nie.



– Hoewel die Garsies reeds ses wedstryde in die ligafase afgehandel het, het hulle ’n buffer van agt ligapunte opgebou tussen hulle en Monnas, wat tans tweede op die punteleer is en vyf wedstryde gespeel het. Die Bere se program word nou onderbreek en hulle speel eers weer op 1 Augustus teen Middelburg, wanneer die laaste fase van die liga na die Julie vakansie voortgsit word.
– Twee wedstryde in hierdie liga vind eerskomende naweek net voor die begin van die skoolvakansie plaas.
Hoërskool Waterkloof en Hoërskool Noordheuwel, speel eerskomende naweek op Waterkloof se veld teen mekaar.
Na ’n sukkel-begin het Noordheuwel hul laaste drie wedstryde gewen en met hul groot oorwinning (55-33) die afgelope naweek teen Rustenburg, het die Nories opgeskuif na die vierde plek op die punteleer, net een punt agter die Klofies. Klofies het egter wel een wedstryd minder gespeel. Nietemin sal die wenner van hierdie wedstryd die derde plek op die punteleer hul eie maak tot na die vakansie.
In die ander wedstryd eerskomende Saterdag sal Helpmekaar Kollege en Hoërskool Middelburg sake uitspook om die vyfde plek op die punteleer te beset tot na die skoolvakansie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
