Historiese mylpaal by jaarlikse Bulletjiedag op Loftus Versfeld
Ná 33 jaar van Bulletjierugby is daar vanjaar wéér geskiedenis gemaak by die jaarlikse Loftus Versfeld Bulletjierugby dag, toe 30 meisies deel was van die eerste Bulletjierugby wedstryd waartydens 30 meisies die kans gekry het om eksklusief in hul eie wedstryd teen mekaar te speel.
In hierdie dae van sosiale media en letterlik honderde rugbyverwante podsendings (podcasts) wat op die internet beskikbaar is, word mens deeglik bewus gemaak van die res van die wêreld se nuuskierigheid oor waarom rugby so ’n reuse aanhang in Suid-Afrika geniet.
Daar word veral gereeld bespiegel dat Suid-Afrika se baie goed georganiseerde skolerugby strukture een van die belangrikste redes is vir die enorme stroom van rugbytalent wat in die land na vore kom.
Enigiemand wat egter die afgelope Saterdag by Loftus Versfeld ’n draai gemaak het, sal weet dat daar ook ’n ander platform bestaan waar die saadjie om ’n liefde vir rugby te kweek selfs by kinders so jonk as ses jaar geplant word.
Willem Strauss, die president van die Blou Bulle Rugby-unie, het dit Saterdag goed opgesom.
“Ons bied weer die grootste rugby-geleentheid ter wêreld aan vir byna 6000 Bulletjies. Hierdie is die ouderdom waarop ons reeds die liefde vir ons wonderlike spel by die kinders kweek,” het Strauss opgemerk.

Foto: Charmaine Visser

Foto: Koos Venter

Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser

Foto: Koos Venter

Foto: Charmaine Visser
Bulletjierugby is ’n unieke konsep wat sedert 1993 deel is van die BBRU se ontwikkelingstrategie en waardeur jong spelers tussen die ouderdom van 6 en 8 jaar deelneem aan verkorte wedstryde. Standaard velde word in kleiner blokke verdeel, terwyl ruimte op die B-; C- en D-velde van Loftus Versfeld geskep word vir toeskouers, wat bydra tot die unieke gees van die geleentheid.
Stalletjies wat alles van kos en drinkgoed tot rugbyverwante items verkoop, asook ander vermaak soos springkastele en die teenwoordigheid van die Blou Bulle se gelukbringer, Bulletjie, dra verder by tot ’n feestelike atmosfeer.
Meer as 30000 toeskouers het deur die loop van die dag deur die hekke van Loftus Versfeld gestroom om die jong rugbysterre te ondersteun.
Die spelers neem nie aan kontak-rugby deel nie. Materiaal stroke word met die hulp van “velcro” aan spelers se heupe geheg en verdedigers moet dan ten minste een van die baldraer se stroke afruk, waarna hy onmiddelik van die bal ontslae moet raak.

Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser
Esjé Esterhuyse, die energieke jong voorsitter van die Blou Bulle se Bulletjie-rugby organisasie, het aan Rekord meer detail gegee oor die getalle en gevolglike logistieke uitdaging was gepaard gaan met dié rugby-fees.
Vanjaar het 82 skole vanoor die Blou Bulle-streek ’n totaal van 5673 seuns en meisies in die aangewese ouderdomsgroepe (graad R tot graad 2) ingeskryf vir die aksie. Hierdie getal spelers is deel van 537 spanne wat vanaf 07:30 die oggend tot 17:30 laat-middag aan 557 wedstryde deelgeneem het. Dit beteken dat elke span die kans kry om ten minste twee wedstryde te speel.
Die o.7 groep het die meeste spanne (188) ingeskryf, gevolg deur die o.8 groep met 184 spanne, terwyl 165 spanne uit die jongste o.6 spelers deel was van die aksie.
Daar was egter ’n unieke nuwe deurbraak vir die spel op hierdie vlak toe twee geskiedkundige Bulletjierugby wedstryde eksklusief vir meisies ook tydens die dag aangebied is.

Foto: Koos Venter

Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser


Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser

Foto: Charmaine Visser
Volgens Esterhuyse het hulle in die verlede opgemerk dat al hoe meer meisies in hierdie ouderdomsgroepe saam met die seuns aan Bulletjierugby deelneem en nadat hy as voorsitter oorgeneem het, was een van sy eerste nuwe projekte die skep van ’n unieke geleentheid vir meisies om in eksklusiewe spanne teen mekaar te speel.
Uiteindelik is 30 meisies uit verskillende skole in vier spanne verdeel om aan hierdie twee geskiedkundige wedstryde deel te neem.
“Ons sien hierdie nie as ‘n eenmalige gebeurtenis nie, maar as die begin van iets baie groter. Die doelwit is om die deelname reeds volgende jaar te verdubbel na minstens 60 meisies en om ‘n volledige program van wedstryde vir meisies deel van die dag te maak,” het Esterhuyse verduidelik.
Op hierdie ouderdom gaan dit nie oor trofeë of ligapunte nie. Bulletjierugby gaan oor deelname en elke kind wat ingeskryf het moet die geleentheid kry om te speel. Die fokus val verder op waardes wat rugby van jongs af ontwikkel, soos dissipline, spanwerk, respek, sportmangees en deursettingsvermoë. Hierdie waardes verteenwoordig ook lewenslesse wat veel verder strek as die rugbyveld en dit help om verantwoordelike en selfversekerde jong mense te vorm.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
