Local sportSport

Wimbledon tennistoernooi inspireer “Jamboree op Gras” in die Moot

In die gees van die tenniskoors wat tans oral heers weens die Wimmbledon toernooi in Engeland, het die Waverley Tennis en Pickleball klub in samewerking met ‘n paar vennote onlangs ’n baie suksesvolle “Jamboree op Gras” sportffees aangebied.

Daar is iets eufories aan die Wimbledon tennistoernooi wat mense inspireer en algemene belangstelling in dié sport jaarliks by die gewone publiek die hoogte laat inskiet.

Vir getroue tennis entoesiaste is die opgewondenheid selfs groter. Om die supersterre van die tenniswêreld by Wimbledon met al sy swier en tradisies in aksie te sien doen iets aan elke tennisliefhebber en almal wil by ’n tennisbaan uitkom om die raket te swaai en kishoue te probeer slaan in hierdie tyd.

Hierdie oplewing in die publiek se belangstelling in tennis het verlede week gemanifisteer in ’n “grasbaan sportfees” in die Moot, wat die “Jamboree op Gras” gedoop is. Die woord “jamboree” beteken ‘feestelike byeenkoms’ of ‘viering’.

Tennis en pickleball geesdriftiges van alle ouderdomme het onlangs deelgeneem aan die aksie op Laerskool villieria se sportveld tydens die Waverley Tennis en Pickleball klub se “Jamboree op Gras” sportffees.
Foto: Verskaf

In samewerking met Modern Tennis en die Waverley Tennis en Pickleball klub het Louis du Plooy die sportgronde van die Laerskool Villieria omskep in een groot grasbaan tennis- en pickleball fasiliteit, waarheen die gemeenskap opgeruk het vir ’n oggend van sport en samesyn.

Du Plooy en sy helpers het reeds die vorige dag bymekaargekom om bane te verf op die skool se sportveld, terwyl die verskillende nette opgeslaan moes word.

Dit was ’n sportfees vir oud en jonk, met junior en senior spelers wat in dubbels‑pare ingedeel is om op ’n rondomtalie formaat teen mekaar mee te ding in dié twee raket-sporte. Die aksie het vanaf 08:00 tot 12:00 geduur, waarna wenners uiteindelik aangewys kon word.

Weens die Wimbledon-geënspireerde tema was dit nie net die spelers wat met hul tennis- en pickleball aksie aandag getrek het nie. Daar is ook pryse toegeken vir die mooiste Wimbledon geïnspireerde tennisklere, wat die tema van die dag perfek aangevul het.

Natuurlik was daar ook voorsiening vir spys en drank, want wat is ’n sportfees sonder lekker eet en drink tussendeur. Stalletjies waar worsbroodjies, pannekoek en vars koffie gekoop kon word het goed sake gedoen, terwyl ander borge weer hul produkte soos tennis- en pickleball toerusting en kleredrag kon bemark.

Aksie uit een van die pickleball wedstryde op ‘n grasbaan tydens die onlangse “Jamboree op Gras” sportffees in die Moot.
Foto: Verskaf

Ander vermaak is ook verskaf in die vorm van ’n platejoggie wat tot die atmosfeer bygedra het met vrolike musiek.

Terwyl die organiseerders se hoofdoel uiteraard was om die twee sportsoorte aan ’n groter deel van die publiek bekend te stel en ’n liefde daarvoor by oud en jonk te kweek, het hierdie “Jamboree op Gras” ook weer aan die Moot-gemeenskap die geleentheid gebied om  interaksie te hê en gemeenskap-kohesie te bevorder rondom ’n gesonde aktiwiteit.

Die Waverley Tennis en Pickleball klub bly aktief met projekte soos ’n Junior Klub vir jong tennisspelers elke Saterdagoggend, sosiale tennis op Woensdae en Saterdae en sosiale pickleball op Dinsdae en Donderdae. Klubkampioenskappe, ligas en maandelikse byeenkomste hou die gemeenskap fiks en aan die gang. Die bane word tans opgeknap en sal binnekort beskikbaar wees teen ’n bekostigbare besoekersfooi.

Vir navrae oor die klub en hul program van aktiwiteite, kontak Pieter Erasmus by 083‑214‑3521.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button