Local sportSport

Kanker eis geliefde afrigter en administrateur van Centurion rugbyklub

Een van Centurion rugbyklub se geliefde afrigters en administrateurs, Wessel Steyn, is die afgelope naweek oorlede ná ’n maandelange stryd met lewerkanker.

Een van gewildste persoonlikhede in die plaaslike klubrugby gemeenskap, Wessel Steyn, is die afgelope naweek op 64-jarige ouderdom aan kanker oorlede.

Steyn is twee jaar gelde met slukdermkanker gediagnoseer, maar het – eie aan sy aard – die siekte beveg en ná behandeling het hy dié aanslag oorleef. In Mei vanjaar het hy egter die slegte nuus ontvang dat kanker weer in sy liggaam gevind is – dié keer in die lewer. Die diagnose was ook meer ernstig, want medici het bevind dat dié aggressiewe lewerkanker reeds tot die vierde fase gevorder het.

Soos dit ’n deurwinterde rugbyman betaam, het Steyn egter geweier om moed op te gee en hy was bereid om wéér die siekte te beveg. Hy is ook getrou deur sy vriende by die rugbyklub bygestaan, wat ’n fondsinsameling veldtog georganiseer het om met sy behandeling te help.

Ongelukkig was daar die afgelope ses weke nie veel wat medici vir hom kon doen nie, behalwe om die verspreiding van die kanker te probeer keer en veral sy pyn te probeer verlig. Die afgelope naweek is hy egter ná twee maande van moedige stryd oorlede.

Steyn se geliefdheid by die klub, sowel as by die groter klubrugby gemeenskap van Pretoria, was duidelik sigbaar toe hordes huldeblyke op sosiale media gedeel is sedert sy afsterwe bekend geword het. Nie net lede en borge van Centurion rugbyklub het hieraan deelgeneem nie, maar ook bestuurslede van ander klubs in die Carltonbeker liga.

Hoewel Steyn in sy jonger dae in die bankwese werksaam was waar hy later in bestuursposte gedien het, was rugby sy groot passie. Hy was self ’n kranige speler op sy dag, maar dit is as afrigter en administrateur waar hy werklik tot sy reg gekom het.

Tydens sy verblyf in Kimberley was Steyn betrokke by afrigting op provinsiale vlak by die Griekwas rugby-unie, waar hy veral ook sy passie vir die ontwikkeling van jong spelers uitgeleef het.

Wessel Steyn (heel links) het veral ’n sagte plek gehad het vir welsynsprojekte. Hy was ’n paar jaar gelede die hooforganiseerder van ’n ’n reuse potjiekoskompetisie op die Centurion rugbyklub se terrein waarmee geld ingesamel is vir die rugbyklub én Club 21, ’n nie-winsgewende leersentrum wat spesialiseer in die opvoeding en ontwikkeling van mense met Down sindroom.
Foto: Koos Venter

Nadat hy na Gauteng verhuis het, het Steyn by die Centurion Rugbyklub betrokke geraak en sommer gou ingeskakel as afrigter en administrateur. Hy het ook ’n groot rol gespeel in die bestuur van die Jeugklub.

As administrateur was Steyn bekend vir sy dryfkrag om projekte te bestuur ten bate van die klub, terwyl hy veral ’n sagte plek gehad het vir welsynsprojekte. Hy was ’n paar jaar gelede die hooforganiseerder van ’n projek waardeur geld ingesamel is vir die rugbyklub én Club 21, ’n nie-winsgewende leersentrum wat spesialiseer in die opvoeding en ontwikkeling van mense met Down sindroom. Deur middel van ’n reuse potjiekoskompetisie op die Centurion rugbyklub se terrein het hulle die hele gemeenskap van Centurion betrek om van hierdie projek ’n groot sukses te maak.

Die afgelope jare was Steyn die terreinbestuurder van die Centurion rugbyklub, terwyl hy ook gereeld – selfs tydens sy siekte – nog as wedstryd kommissaris tydens wedstryde van die klub diens gedoen het.

Steyn word oorleef deur sy vrou, Sonja, en twee seuns, asook ’n broer en drie susters.

’n Roudiens word op Vrydag 17 Julie om 10:00 gehou by die Midstream Kerksondermure in Mount Quarystraat 23, Olifantsfontein, waarna verversings by die Centurion rugbyklub aan familie en vriende bedien sal word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button