Local sportSchool sportSport

Klofies, Parkies hou hul kanse lewend met oorwinnings in Noordvaal Cup toernooi

Daar was die afgelope naweek ’n paar verrassings tydens die hervatting van die aksie in die Beker-afdeling van die Noordvaal Cup skolerugby toernooi, wat tot gevolg het dat al drie die deelnemers uit Pretoria teoreties nog vir die halfeindrondte kan kwalifiseer.

Die Noordvaal Cup skolerugby toernooi se Beker-afdeling is die afgelope naweek ná die lang Julie skoolvakansie hervat.

Terwyl Hoërskool Menlopark en Hoërskool Waterkloof beide baie goeie oorwinnings behaal het, het twee van hul vernaamste mededingers, Helpmekaar Kollege en Hoërskool Noordheuwel, se nederlae die kaarte op die punteleer deurmekaargekrap. Dié uitslae het gesorg dat elke wedstryd in die oorblywende twee weke van ligafase van hierdie toernooi ’n invloed op die uiteindelike stand van sake gaan hê.

– Die Parkies het hulself én Waterkloof ’n reuse guns gedoen deur Noordheuwel, wat voor die vakansie vier agtereenvolgende oorwinnings behaal het, met 45-42 op hul tuisveld in Pretoria te klop. In die proses het Menlo baie karakter gewys, wat hulle ondersteuners hoop sal gee vir die res van die seisoen.

Lucian Reed, regtervleuel van Menlopark, op volspoed op pad na sy drie, wat sy span in die laaste sekondes van die wedstryd in staat gestel het om Noordheuwel te klop.
Foto: Joubert de Wet

Terwyl die halftyd telling nog 21-elk was, het die Wesranders halfpad deur die tweede skof met 35-21 voorgeloop, danksy twee drieë. Hul vyfde drie is gedruk terwyl hulle slegs 13 spelers op die veld gehad het, nadat twee manne met geelkaarte gestraf is.

Hierna het die pas van die wedstryd versnel. Die tuisspan het binne twee minute twee keer gaan druk, waarna die Nories vir die sesde keer die doellyn oorgesteek het.    

Die Parkies het egter nooit opgegee nie en in die laaste drie minute twee keer gaan druk. Hul laaste drie deur regtervleuel Lucian Read, wat die oorwinning beklink het, is gedruk nadat die toeter reeds in die agtergrond geloei het om te bevestig dat die tyd uitgeloop het.

Menlopark se loskopstut, Jayden Harris, op die aanval in Saterdag se Noordvaal Cup wedstryd teen Noordheuwel. Hy was een van die Parkies se driedrukkers.
Foto: Joubert de Wet

– In Boksburg het Waterkoof se bonuspunt oorwinning van 34-24 oor Hoërskool Dr. EG Jansen verseker dat hulle na die derde plek op die punteleer opskuif.

Hoewel die tuisspan eerste bloed geruik het met ’n drie vroeg in die wedstryd, het die Klofies met hul kragtige voorspelerspel stadig maar seker hul stempel op die spel begin afdruk.

Drie drieë voor rustyd vir die Blou Tornado het die rustyd telling op 17-7 in hul guns te staan gebring en die druk op EG Jansen geplaas om spreekwoordelik die telbord te jaag ná die omdraaislag.

Toe die Klofies boonop kort na rustyd oordryf vir hul bonuspunt drie, het dit duidelik geword die Jansies se middag is waarskynlik reeds bederf.

Die tuisspan het hard geveg en uiteindelik ’n bonuspunt vir vier drie verdien, maar die Klofies het telkens self weer die doellyn gehaal om hul voorsprong te behou.

– Terwyl Hoërskool Garsfontein reeds vir die halfeindrondte gekwalifiseer het en in hul laaste twee wedstryde sal speel om hul onoorwonne rekord te behou én om tuiswedstryde in die uitspeelrondtes te verseker, lyk Waterkloof en Menlopark se situasies anders.

Die Klofies se lot is nog volledig in hul eie hande. Om vir die halfeindrondte te kwalifiseer, moet hulle ten minste een van hul laaste twee ligabepalings teen Helpmekaar (1 Augustus, tuis) en Monument (8 Augustus, weg) wen. Bonuspunt oorwinnings in beide hierdie wedstryde kan Waterkloof selfs ’n kans gee om vir ’n tuis halfeindstryd te kwalifiseer indien die omgekrapte span van Rustenburg, wat Helpies Saterdag verras het, eerskomende naweek met Monnas kan afreken.

Menlopark se woelige haker, Dian de Bruin, duik oor vir een van sy twee drieë teen Noordheuwel in Saterdag se Noordvaal Cup wedstryd.
Foto: Joubert de Wet

Ongelukkig vir die Parkies is hul hoop op ’n plek in die halfeindrondte nie meer slegs in hule eie hande nie. Hulle het harde werk én ’n bietjie geluk nodig as hulle vir die uitspeelfase van die toernooi wil kwalifiseer.

Bonuspunt oorwinnings in hul twee laaste ligawedstryde teen EG Jansen (1 Augustus, tuis) en Rustenburg (8 Augustus, weg) is ononderhandelbaar. Daarna sal ’n paar uitslae in ander wedstryde in hul guns moet verloop om ’n halfeindstryd moontlik te maak.

Noordheuwel sal op 8 Augustus in hul laaste ligabepaling teen Middelburg (tuis) moet verloor en nie meer as een bonuspunt moet verdien nie. Dan sal die Middies op hul beurt eerskomende naweek teen Garsfontein (tuis) moet verloor. Helpmekaar, wat ook bo Menlo op die punteleer lê, het slegs een ligawedstryd – eerskomende naweek (1 Augustus, weg) teen Waterkloof – oor en sal dus nie ’n faktor wees as die Parkies albei hul laaste wedstryde wen nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button