HTS John Vorster wen Stadsbeker ná riller-stryd teen Hoërskool Pretoria-Noord
Groot opwinding, baie spanning en ’n dramatiese einde was die hoof kenmerke van Saterdag se ‘Noorde vs Moot’ Stadsbeker skolerugby eindstryd, waartydens Hoërskool Pretoria-Noord en HTS John Vorster sake moes uitspook om as kampioen gekroon te word
Die Hoërskool Pretoria-Noord se sportgronde was Saterdag reeds van vroegdag af ’n miernes van bedrywighede, met die Stadsbeker rugby-eindstryde (Afdeling 2) wat daar aangebied is.
Agt eindstryde op een dag op een terrein sou uiteraard sorg vir baie opwinding en emosie, maar niks kon ondersteuners van Hoërskool Pretoria-Noord se Swart Leeus en HTS John Vorster se Bulldogs voorberei vir die wipwaentjie rit wat hul emosies sou beleef toe dié twee skole se eerstespanne mekaar in die hoofdis van die dag om die Stadsbeker titel sou aanvat nie.
Toe die eindfluitjie uiteindelik blaas was HTS John Vorster se ondersteuners se bekerdroogte van 22 jaar verby, want na sowat 73 minute van hoogdrama het die Bulldogs van die Moot die Swart Leeus van die Noorde met ’n enkele punt (21-20) geklop.




Foto: Hoërskool Pretoria-Noord
Dit was die soort skolerugby wedstryd wat enige dag oor die wêreld heen vertoon kan word om te wys waarom Suid-Afrikaanse rugby so uitstaande is. Die kwaliteit van die spel wat opgedis is, hoef vir geeneen van die top skoleligas terug te staan nie – goeie struktuur, duidelike wedstrydplanne, netjiese hantering en puik verdediging het die stryd gekenmerk. Hiervoor, asook vir die opmerklike fiksheid van die spelers, moet die afrigtingspanne van die twee skole ’n reuse pluimpie kry.
Van die afskop af het die twee pakke voorspelers behoorlik onder mekaar ingeklim. Nie een van die twee spanne wou ’n sentimeter terugdeins nie. Uiteindelik sou dit 22 minute neem voor die Bulldogs se wakker skrumskakel, Rechardt du Toit, die telbord aan die rol kon sit toe hy om ’n loskrum geglip het, nadat sy voorspelers die bal deur verskeie fases geneem het vanaf ’n lynstaan in die rooi gebied.
Die Swart Leeus se ster senter, Lualan Fatherly, het kort voor rustyd die skaal in sy span se guns geswaai (7-5) toe hy met ’n kraglopie deurgestorm het vir ’n verdoelde drie.
Na die omdraaislag het Jayven Viljoen van John Vorster sy span weer laat voorloop met twee strafdoele kort na mekaar en hulle sou daarna nooit weer dié voorsprong verloor nie.

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter

Foto: Koos Venter
Ná ’n drie aan elke kant het linkervleuel Jannes Bamboo met die Bulldogs se derde drie twee minute voor die toeter sy span se ondersteuners laat juig, maar ’n verbroude doelskop het die punteverskil op ses punte te staan gebring, wat die vonk vir die tuisspan se eindpoging verskaf het.
Pretoria-Noord het besit by ’n lynstaan afgeneem met sekondes amptelike speeltyd oor en daarna vir byna vier minute met kliniese akkuraatheid en dissipline aanhou vorentoe dryf, totdat Fatherly weer met krag kon oorbeur vir sy tweede drie.
Dié talentvolle seun het daarna met die telling op 21-20 in John Vorster se guns die onbenydenswaardige taak gehad om onder groot druk – met die spanning só dik dat dit met ’n mes gesny kon word – die drie self te verdoel vir die wenpunte. Hy het egter misluk en dit was die besoekers uit die Moot wat kon feesvier.
Die sportmangees in die wyse waarop Pretoria-Noord se spelers en ondersteuners die nederlaag hanteer het was nog een van die uitstaande kenmerke van die stryd.








– In die hoof-voorwedstryd het Hoërskool Wonderboom en Hoërskool Tuine se eerstespanne uitgespeel om die derde en vierde plekke in die kompetisie te bepaal. Hoewel al vier die skole wat Saterdag in aksie was sal deurdring na die volgende interprovinsiale fase in die Noordvaal Cup (Groep 2) se ligabepalings, was hierdie wedstryd veral belangrik met die oog op die teenstanders uit ander provinsies wat in die res van die seisoen op elkeen wag.
Terwyl die wedstryd tussen die Wonnies en Tuine teen rustyd nog met 24-17 in eersgenoemde se guns in die weegskaal was, het die Wonderboom Tiere die tweede skof oorheers om uiteindelik met 67-17 te wen.
– Uitslae in die ander ouderdomsgroepe by Saterdag se groot eindstryd-fees was soos volg:
o.16 (Vir Stadsbeker): Hoërskool Wonderboom 19, Hoërskool Pretoria-Noord 17.
o.16 (Vir derde en vierde plekke): Hoërskool Die Wilgers 30, Hoërskool Erasmus 19.
o.15 (Vir Stadsbeker): Hoërskool Pretoria-Noord 28, Hoërskool Die Wilgers 26.
o.15 (Vir derde en vierde plekke): HTS John Vorster 19; Hoërskool Erasmus 0.
o.14 (Vir Stadsbeker): Hoërskool Wonderboom 17, HTS John Vorster 10.
o.14 (Vir derde en vierde plekke): Hoërskool Overkruin 19; Hoërskool Die Wilgers 14
– Rietondale High School het die besondere prestasie behaal dat al hul rugbyspanne vir die eindstryde van Afdeling 3 van die Stadsbeker kompetisie gekwalifiseer het. Rietondale se eerstespan is Saterdag as die afdeling se kampioen gekroon, nadat hulle Curro Hazeldean met 14-13 in ’n spannende eindstryd geklop het.
Rietondale se tweedespan is ook as kampioen gekroon toe hulle Uitsig High School met 17-5 geklop het, terwyl hul o.16 span met Uitsig afgereken het (52-13) om aan dié skool in die Moot drie titels te besorg.
Ongelukkig het Rietondale se o.15 en o.14 spanne albei teen Curro Hazeldean verloor.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
