Local sportSport

Groot oorwinnings vir Naka Bulle en Centurion in Sanlam Carltonbeker toernooi

Terwyl Naka Bulle die naweek met ’n kragvertoning teen Tuks ’n duidelike boodskap aan hul uitdagers in die Sanlam Carltonbeker klubrugby toernooi gestuur het, het Centurion ook weer onderstreep dat hulle ’n ernstige aanspraakmaker op dié gesogte trofee is.

Die ligafase van die Sanlam Carltonbeker klubrugby toernooi word eerskomende naweek op ’n hoogtepunt afgesluit wanneer die klubs wat die halfeindstryde gaan aanbied in twee deurslaggewende wedstryde bepaal sal word.

Teen Saterdagaand sal enige twee van Naka Bulle, Centurion of Tuks die voorreg hê om op 22 Augustus in die halfeindstryde op hul tuisveld te speel. Slegs vier ligapunte skei die drie klubs op die punteleer.

Tuks sukkel tradisioneel op Centurion se tuisveld in die skadu van die Gautrein-spoor, maar die studente sal Saterdag met ’n groot poging vorendag kom om Jacques Potgieter se manne se momentum in die kompetisie te probeer stuit.

In die ander wedstryd van die komende naweek sal die verdedigende kampioen, Naka Bulle, Groenkloof toe reis om Harlequins op hul tuisveld te pak. Gary Botha se troepe het reeds vir die halfeindstryd gekwalifiseer, maar hulle kan hoogstens derde eindig. As hulle egter die onwaarskynlike vermag en die wedstryd teen Naka Bulle wen, terwyl hulle boonop die manne van die Moot verhoed om enige ligapunte te verdien, is dit teoreties nog moontlik dat Centurion en Tuks albei bo die verdedigende kampioen op die punteleer kan eindig.

Weens die klein verskil tussen die spanne se ligapunte op die punteleer is verskeie permutasies dus moontlik vir die halfeindstryde.  

– Op hul tuisveld in die Moot het Naka Bulle hul ondersteuners die afgelope Saterdag moed gegee vir die laaste fase van die toernooi deur Tuks behoorlik op te dons. Die eindtelling was 52-29 in die tuisspan se guns.

Tuks het oudergewoonte vroeg reeds die bal die werk laat doen met hul aanvallende benadering en binne die eerste drie minute is hul rekening met ’n drie geopen. Naka Bulle het egter teruggeslaan met ’n krag-drie deur hul voorspelers.

’n Strafdoel en nog ’n drie vir Tuks het hul voorsprong gerek, maar ’n drie vanaf ’n puik insny-beweging deur Hansie Graaff en nog twee kragdrieë deur die tuisspan het nie net reeds hul bonuspunt verseker nie, maar ook die momentum na ’n halfuur se aksie in hul guns begin swaai.

Teen rustyd was dit duidelik dat die studente voorlangs nie opgewasse is om Naka Bulle se hardebaarde in toom te hou nie en met die telling op 40-15 in die tuisspan se guns, sou Tuks met ’n groot poging in die tweede skof vorendag moes kom om die gety te draai.

Tuks het hard probeer en wel ’n broodnodige bonuspunt verdien met ’n vierde drie, maar die verdedigende kampioen het uiteindelik ’n standpunt gemaak met ’n vyftigtal, wat agt drieë ingesluit het.

– In Tuine het die Grizzlies se Sanlan Carltonbeker seisoen met ’n groot nederlaag van 49-80 teen Centurion geëindig, wat beteken dat hulle as 2025 finalis nie ’n wedstryd in vanjaar se toernooi kon wen nie.

Die manne van die Weste het oudergewoonte positiewe rugby op die aanval gespeel, maar hul probleme het weer met swak verdediging begin.

Centurion het reeds na drie minute se aksie die eerste van hul uiteindelike twaalf drieë gedruk.

Teen rustyd was die besoekers met 40-14 voor. Hoewel die Grizzlies ’n poging aangewend het om terug te veg en die wedstryd uiteindelik aanskoulik was uit ’n toeskouers-oogpunt, was dit duidelik dat die tuisspan se posisie op die punteleer en die feit dat hulle reeds uit die wedloop na die halfeindrondte is, beslis in hul agterkoppe was.

Die Grizzlies se probleme op die verdediging word onderstreep deur die feit dat hulle self sewe keer die doellyn kon oorsteek tydens die wedstryd. Sewe drieë in ’n Carltonbeker kragmeting behoort enige span in ’n moontlike wen-posisie te plaas, maar in hierdie geval was die gaping tussen die twee spanne 31 punte.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button