Local sportSchool sportSport

Drie Menlopark atlete gereed om op internasionale vlak deur te breek

Drie atlete van Die Hoërskool Menlopark sal hierdie week in Amerika die grootste uitdaging van hul onderskeie atletiekloopbane tot dusver in die gesig staar wanneer hulle hul land verteenwoordig by Wêreldatletiek se o.20 kampioenskap in Amerika.

’n Groot oomblik in die atletiek loopbane van ’n drietal jong Pretorianers breek hierdie week aan in Eugene, ’n stad in die staat Oregon in die noord-weste van Amerika, wanneer Wêreldatletiek se o.20 kampioenskap van 5 tot 9 Augustus daar aangebied word.

Vir drie van hierdie atlete – aldrie leerlinge aan Die Hoërskool Menlopark – sal dit die grootste uitgading tot dusver in hul belowende atletiekloopbane wees. Dié drie Parkies tel onder die jongste lede van die Suid-Afrikaanse span. Nie een van hulle is al 18 jaar oud nie, maar hulle sal teen die room van die wêreld se o.20 atlete kompeteer.

Jaco van Dyk is net 16-jaar oud en die jongste manlike lid van die Suid-Afrikaanse span wat aan Wêreldatletiek se o.20 kampioenskap in Amerika gaan deelneem, maar hy het reeds bewys dat hy as gewigstoot atleet sy man kan staan teen ouer mededingers.
Foto: Charmaine Visser

Jaco van Dyk

– Jaco van Dyk is nie net die jongste van die drietal Parkies nie, maar ook die jongste mans-atleet in die Suid-Afrikaanse span by die kampioenskap. Van Dyk het op 18 Mei vanjaar eers 16 jaar oud geword, maar dié jong reus, wat 1,95m in sy sokkies staan, is al gewoond daaraan om saam met die seniors deel te neem. Die o.20 liga skrik hom dus nie af nie.

Van Dyk se opgang as gewigstoter is fenominaal. Hy het as 10-jarige laerskool atleet reeds die moeilike draai-tegniek in die gewigstoot ring onder die knie gekry en sedertdien spog hy met verskeie rekords en titels met die ysterbal. Hy is die huidige Atletiek Gauteng-Noord o.20 kampioen, terwyl sy spanmaat in die SA span by die kampioenskap in Eugene, Dewald Bezuidenhout van Affies, hom vanjaar net-net by die SA o.20 kampioenskap geklop het.

Hy hou ook die SA o.16 rekord van 22,23m met die 4kg gewig, terwyl hy sy man kan staan tussen die seniors met ’n persoonlike beste van 15,51m met die 7kg gewig.

Hoewel hy deesdae op sy atletiekloopbaan fokus, het Van Dyk op laerskool ook op die rugby- en krieketveld uitgeblink. In sy vrye tyd vang hy graag vis om te ontspan.

Ten spyte van die feit dat Van Dyk drie jaar jonger as die meeste van sy teenstanders in Amerika gaan wees, is hy tans 14de op die wêreldranlys vir o.20 atlete, wat met die 6kg ysterbal deelneem aan die gewigstoot. Sy persoonlike beste afstand met dié gewig is 19,41m. Volgens hom mik hy ten minste daarna om die eindrondte te haal en met dié ranglys posisie in ag geneem, behoort hy ’n goeie kans te hê om dit reg te kry.

Volgens Van Dyk bewonder hy die driemalige Olimpiese gouemedalje wenner in die gewigsteoot,  Ryan Crouser van Amerika. Daar is onlang berig dat Crouser beslis nog nie planne het om uit te tree nie. Wie weet, dalk kry dié tienerseun van Pretoria binnekort die geleentheid om teen sy held te kompeteer.

Joshua Gerber in aksie tydens ASA se 2026 nasionale junior atletiekkampioenskap, wat vroeër vanjaar in Germiston aangebied is.
Foto: Charmaine Visser

Joshua Gerber

– Joshua Gerber is nóg ’n jong reus in die Suid-Afrikaanse span. Al word hy eers oor ’n maand 17, staan dié seun reeds 1,96m in sy sokkies en met sy prestasies het hy atletiek-kenners die afgelope paar jaar al verskeie keer die sport se annale laat nagaan.

Gerber se naam en diskus rekords is nou reeds byna sinoniem. Hy het sedert 2024 ten minste twee keer opslae gemaak toe hy wêreld-beste afstande vir sy ouderdom met beide die 1,5kg en 1,75kg diskus gegooi het.

Verlede jaar is Gerber by die o.18 en o.20 Afrika Atletiekkampioenskap as kampioen gekroon, terwyl sy wen afstand van 64,48m die beste ter wêreld vir ’n o.16 seun was.

Intussen plaas die 66.74m wat hy vroeër vanjaar met die 1,5kg diskus gegooi het hom tweede op die wêreldranglys vir o.18 atlete.  In Eugene sal daar met die 1,75kg diskus gekompeteer word en Gerber se 60.78m, wat hy in Maart vanjaar in Potchefstroom gegooi het, plaas hom 13e op die wêreldranglys.  Dit gee hom ’n goeie kans om ten minste die eindrondte te haal.

Hy het tydens die afgelope Julie skoolvakansie in Duitsland teen verskeie van Europa se beste o.20 atlete aan ’n kompetisie deelgeneem ter voorbereiding vir die o.20 wêreldkampioenskap, waar hy ’n brons medalje verower het.

Gerber bewonder die Sweedse reus, Daniel Ståhl, wat reeds met ’n Olimpiese goud en drie senior wêreldtitels as diskus atleet spog.

Hy het ook as laerskoolseun rugby gespeel, maar deesdae fokus hy op sy atletiekloopbaan, terwyl hy boogskiet as stokperdjies geniet. Hy droom groot as atleet en hoewel hy nog nie besluit het het hoe sy pad na skool sal loop nie, glo hy dat atletiek deel daarvan sal wees.

Megan Nieman het ’n goeie kans om die eindrondte in die 400m hekkies te haal by Wêreldatletiek se o.20 kampioenskap in Amerika, wat hierdie week plaasvind.
Foto: Charmaine Visser

Megan Nieman

Terwyl die twee Menlo-seuns elk net aan hul gunsteling velditems gaan deelneem, is die 17-jarige Megan Nieman gekies om haar land in drie items te verteenwoordig – die 100m hekkies, 400m hekkies en 4x400m afloswedloop.

Nieman is lank reeds ’n atletiek sensasie, wat in beide die 100m en 400m hekkies uitblink. Haar persoonlike beste tye van 56,54s in die 400m hekkies en 13,26s in die 100m hekkies plaas haar onderskeidelik sesde en sestiende op die wêreld ranglys vir o.20 atlete. Hierdie statistiek gee haar ’n realistiese kans op ’n plek in die eindrondte en ’n kans op ’n medalje in die langer hekkies item, wat haar gunsteling is.

Sy het pas teruggekeer van Europa, waar sy tydens ‘n byeenkoms in Brugnera in die noord-ooste van Italië aan ‘n senior byeenkoms deelgeneem het en ‘n tweede plek in die 100m hekkies behaal het. Haar tyd was 13.66s.

Haar persoonlike beste tyd in die 400m hekkies is tans ook die Suid-Afrikaanse o.18 rekord, wat sy vroeër vanjaar by die SA junior kampioenskap opgestel het.

Dié rekord poging het gevolg na die groot teleurstelling toe Nieman gediskwalifiseer is in die 100m hekkies by dieselfde kampioenskap, nadat sy gereageer het op ’n klapgeluid was deur ’n moedswillige atleet in die wegspring area gemaak is. Daar is later teen die seun opgetree, maar Nieman het steeds die kans op twee nasionale titels in die hekkies items verbeur.

Nieman, wat tot verlede jaar ook op die hokkieveld uitgeblink het, is boonop ’n leier wat pas tot die skool se Matriekraad vir 2027 verkies is, terwyl sy ook op akademiese gebied uitblink.

Haar gunsteling atleet op die wêreldverhoog is die Amerikaner, Sydney McLaughlin.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button