Skoolseun van Pretoria wen Suid-Afrika se eerste medalje by Wêreldatletiek se o.20 kampioenskap in Amerika
Suid-Afrika se jongse manlike spanlid by 2026 Wêreldatletiek se o.20 kampioenskap, die 16-jarige Jaco van Dyk van Pretoria, het die land se eerste medalje gewen by dié skouspel in Amerika.
Jaco van Dyk van Die Hoërskool Menlopark het vroeg Donderdag oggend (SA tyd) geskiedenis gemaak toe hy Suid-Afrika se eerste medalje gewen het by Wêreldatletiek se o.20 kampioenskap vir 2026 in Amerika.
Van Dyk het die brons medalje ingepalm met ’n reuse poging van 19,80m, waardeur hy terselfdertyd sy persoonlike beste afstand met 39cm verbeter het.
Wat die 16-jarige Van Dyk se prestasie soveel meer indrukwekkend maak, is dat hy die jongste atleet was wat vir die eindrondte kon kwalifiseer. Hy was die enigste 16-jarige in die kompetisie.
Die 19-jarige Alessandro Borges van Brazilië het die goue medalje gewen met ’n poging van 20,35m, wat ook vir hom ’n nuwe persoonlike beste afstand is. Die silwer medalje is gewen deur nog ’n 19-jarige atleet, Si-hoon Park van Suid-Korea, wat die 6kg ysterbal 20,31m ver gestoot het.

Van Dyk het in die uitdunrondte as die sewende beste deelnemer vir die eindrondte gekwalifiseer met ’n beste poging van 19.09m.
In die eindrondte het die jong Pretorianer stadig begin. Trouens, sy eerste poging was ’n “geen-gooi”, maar daarna het hy met elke poging verbeter. Sy derde poging van 18,90m was goed genoeg om vir die laaste 10 te kwalifiseer, wat dus aan hom nóg drie pogings verseker het.
Hierna het Van Dyk se senuwees gekalmeer en sy fokus verbeter. Sy vierde poging het op 19.36m geland. Dit was egter sy vyfde poging van 19,80m wat sy derde plek en die medalje verseker het.
In die proses het Van Dyk met ouer en meer ervare gewigstoters van Egipte, Frankryk, Barbados, China, Romenië, Duitsland en Griekeland afgereken.

“Ons is super-trots,” het Rita van Dyk, Jaco se ma, uit Eugene in die Amerikaanse staat Oregon laat weet kort na haar seun se prestasie. Sy was in die paviljoen om hom te ondersteun.
* Die 17-jarige Dewald Bezuidenthout van die Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria (Affies), wat ook aan dieselfde kompetisie deelgeneem het, kon met sy beste poging van 18,38m nie vir die eindrondte kwalifiseer nie.
* Nog ’n Pretorianer het op die eerste dag van die kampioenskap aan ’n eindrondte van ’n baan-item deelgeneem. Die 17-jarige Ibabella Gunter van die Hoërskool Montana was deel van die Suid-Afrikaanse gemengde aflosspan wat aan die 4x400m aflos wedloop deelgeneem het. Sy het die laaste skof waargeneem.
Die span het in die sesde plek geëindig, ten spyte van die feit dat hulle vir die tweede keer op een dag die nasionale rekord in hierdie item verbeter het. Hulle tyd in die eindrondte was 03:21,48.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
