Zwartkop kry weer ’n kans om Noordvaal Cup se Plaat-trofee te verower
Hoërskool Zwartkop se teleurstelling van die 2025 rugbyseisoen, toe hulle teen alle verwagting in die halfeindstryd van die Noordvaal Cup se Plaat-afdeling uitgeskakel is, kan eerskomende naweek in vreugde omskep word wanneer hulle in die eindstryd van die toernooi speel.
Hoërskool Zwartkop se rugby-ondersteuners het weer hoop op silwerware in die vertoonkas, nadat hul eerstespan die afgelope Saterdag hul halfeindstryd in dié kompetisie maklik met 45-8 teen Hoërskool Oos-Moot gewen het.
Ná verlede jaar se hartverskeurende uitslag in die Plaat-afdeling van die Noordvaal Cup skolerugbytoernooi, toe hulle in die halfeindrondte onverwags teen Hoërskool Middelburg vasgeval het, het die Zwarries skouer aan die wiel gesit en met harde werk vanjaar wéér die ligaseisoen onoorwonne afgesluit.

Nadat Oos-Moot ’n bietjie geluk aan hul kant gehad het ’n week tevore en weens permutasies wat in hul guns verloop het van die agtste plek op die punteleer na die vierde plek gespring het om vir die halfeindstryd te kwalifiseer, het hulle Saterdag eintlik niks gehad om te verloor nie. Trouens, só sou hulle kon redeneer en hul aanslag in die eerste 15 minute van Saterdag se halfeindstryd het dit bewys.
Die Oosies het die wedstryd in vyfde rat begin en van die afskop af het hul onortedokse, aanvallende aanslag gewys dat hulle die Zwarries wil ontwrig en sodoende wil verras.
Van die eerste beweging af het Oos-Moot die bal rondgegooi en so byna die doellyn gehaal voor die eerste minuut nog kon aftik op die horlosie. Dié scenario is ’n paar keer herhaal, maar die tuisspan het telkens daarin geslaag om die druk te verwerk en die Oosies van die doellyn af weg te hou.

Na sowat tien minute se spel het die Zwarries tot verhaal gekom en daarin geslaag om deur oorheersing voorlangs hul stempel te begin afdruk op die verloop van die aksie. Toe die eerste van hul sewe drieë kort daarna volg, was die momentum in hul guns en daarna het ’n kragvertoning gevolg wat die wind geheel uit die besoekers uit die Moot se seile geneem het.
Nóg vyf drieë vir die tuisspan het gevolg en die twee spanne kon gaan water drink met die telling op 40-3 in Zwartkop se guns.
Oos-Moot se gees was nie geblus nie, maar weens die oorheersing van Zwartkop se voorspelers in die vaste fasette sowel as by die afbreekpunte was dit duidelik dat die einde van hul Noordvaal Cup veldtog vir 2026 aangebreek het.
Nietemin het Oos-Moot se kaptein, die Cravenweek losvoorspeler Riyaan Wilson, sy troepe aangevuur om in die tweede skof te probeer terugveg. Dit het hulle wel gedoen, maar Zwartkop het kalm gebly op verdediging en steeds by elke moontlike geleentheid self aanvallend gespeel.

Die taai stryd in die tweede helfte word onderstreep deur die feit dat slegs een drie aan elke kant in dié 35 minute gedruk is.
’n Mens het egter tog die indruk gekry dat die Zwarries se koppe teen die laaste deel van die wedstryd reeds by die eindstryd was. Hopelik sal dié puik span vanjaar die laaste hekkie kan oorkom en die Plaat-trofee kan verower. Niemand verdien dit meer as hulle nie. – Die Zwarries se teenstander vir die eindstryd is eers op Dinsdag 18 Augustus – ná Rekord se druktyd – bepaal, nadat die ander halfeindstryd tussen Nelspruit en Kemptonpark uitgestel is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
