Local sportSchool sportSport

Klofies skok Garsies om na eindstryd van Noordvaal Cup se Beker-afdeling deur te dring

Waterkloof se eerste rugbyspan speel eerskomende Saterdag in Krugersdorp teen Monument in die 2026 eindstryd van die Beker-afdeling in die Noordvaal Cup skolerugbytoernooi, nadat hulle die verdedigende kampioen, Garsfontein, Dinsdagmiddag in die halfeindstryd geklop het.

Die Noordvaal Cup se Beker-afdeling kry vanjaar ’n nuwe kampioen en Hoërskool Garsfontein se droom om Affies se vyfkuns van die 1990’s te jag is vir eers verby.

Hoërskool Waterkloof se eerste rugbyspan het Dinsdagmiddag skokgolwe deur skolerugby kringe gestuur toe hulle die verdedigende kampioen, Garsfontein, se onoorwonne rekord in vanjaar se toernooi verbreek het deur die halfeindstryd tussen dié twee buurskole met 27-26 te wen.

Trouens, dit was die Garsie Bere se eerste nederlaag in hierdie kompetisie sedert hulle op 2 Augustus verlede jaar in ’n ligawedstryd teen Hoërskool Noordheuwel verloor het.

Almero Gerritsen, Waterkloof se briljante agtsteman, op die aanval in Dinsdag se halfeindstryd.
Foto: Frans Lombard.

Garsfontein, wat in April vanjaar by die Wildeklawer toernooi laas ’n wedstryd (teen Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch) verloor het, en op die meeste kenners se skole-ranglyste onder die top drie in die land tel, was die groot gunsteling om vanjaar hul vierde agtereenvolgende titel in dié liga te wen. Daarmee sou hulle realisties binne bereik kom van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) se rekord van vyf agtereenvolgende kampioenskaptitels tussen 1995 en 1999.

–  Cobus van Dyk, uitgeslape afrigter van Waterkloof, wat ook vanjaar die SA Skole “A” span se hulpafrigter was, en sy bestuur het ’n meesterplan uitgewerk vir die halfeindstryd, wat op die dag vir sy span sukses gebring het.

Die Klofies se wedstrydplan het mens herinner aan die resep wat al jare geld vir spanne wat die All Blacks wil klop. Net soos die All Blacks is Garsfontein ’n span wat daarvan hou om teen ’n hoë tempo met die bal in die hand te speel en die basiese aspekte klinies uitvoer, terwyl hulle nie maklik paniekerig raak nie. Maar as jy hulle met aggressie op verdediging en aanval ontmoet en die druk veral by die afbreekpunte verhoog om te verhoed dat die tempo opgejaag word, begin die frustrasie, foute en uiteindelik die paniekerigheid intree.

Nog een van Klofies se helde in Dinsdag se halfeindstryd, Mieder Erasmus, probeer ‘n verdediger ontduik.
Foto: Frans Lombard

Aggressiewe en akkurate verdediging het meermale ook tot gevolg dat die teenstander hanteerfoute maak, wat nie net hul momentum ontwrig nie, maar ook besit omkeer. Sonder besit kan niemand immers punte aanteken nie.

Dit is presies wat Waterkloof in daardie eerste kwartier gedoen het. Dit het hulle in staat gestel om self die meerderheid besit te kry en met spelers soos agtsteman Almero Gerritsen, skrumskakel Marcel Tsiakos en heelagter Alexander Griesel aan die voorpunt kon hulle die Garsies laat skarrel as die Blou Tornado verwoed begin aanval het.

Die gevolg was twee puik drieë deur Gerritsen en linkervleuel, Jacques Janse van Rensburg binne die eerste agt minute van die wedstryd, wat die tuisspan effens laat weifel het.

Soos dit ’n kampioenspan betaam het die Garsie Bere egter na ’n kwartier tot verhaal begin kom en hul struktuur begin herstel, wat tot die sterk haker, Stefan van der Vyfer, se drie gelei het.

Daarna wou dit lyk of die verdedigende kampioen begin momentum bou en die Klofies moes weer hul keer ken, terwyl die Garsies met die een aanval na die ander vorendag kom. Dit was egter ’n hanteerfout tydens een van dié aanvalle wat die inisiatief terug in die hande van die besoekers geplaas het toe Tsiakos die losbal oppik en vir Mieder Erasmus op regtervleuel met ’n rughand aangee in besit stel. Erasmus het teen die verloop van spel begin aanval, die bal vorentoe geskop en sy spoed gebruik om dit terug te wen, waarna hy ’n beweging van sowat 65 meter kon afrond.

Die Garsie buitesenter Levi Jordaan se drie ná die rustyd toeter reeds geloei het, het die telling op 17-12 in Waterkloof se guns laat staan.

Puik verdediging was een van die kenmerke van Dinsdag se halfeindstryd van die Noordvaal Cup se Beker-afdeling.
Foto: Frans Lombard

Skitterspel deur Griesel, wat tot sy puik individuele drie gelei het, het die druk vroeg in die tweede helfte weer teen die tuisspan laat opbou, maar toe Lemarc Henry sy eie vaardigehde wys vir ’n selfgemaakte drie, is die halftyd punteverskil herstel.

In die laaste 15 minute het die spanning weer opgebou, soos dit hoort in ’n halfeindstryd. Garsies het die vaste fasette begin oorheers en uit daardie momentum kon hulle opbou na ’n posisie waar hulle vanaf ’n lynstaan kon oordryf vir flank Francois van Niekerk se drie.

Vir die eerste keer in die wedstryd het die verdedigende kampioen die voortou geneem (26-24) en dit wou lyk of hulle in tipiese Garsie Bere styl laat in die wedstryd die oorwining sou beklink.

Waterkloof se losskakel, Liam Schutte, in aksie.
Foto: Frans Lombard

Waterkloof het egter ander planne gehad en twee direk opeenvolgende geelkaarte aan Garsfontein het aan hulle die hupstioot gegee vir Tsiakos se wendrie, wat gedruk is nadat sy haker, Stiaan Theron, na die blindekant weggebreek het van ’n losgemaal en sy skrumskakel in besit kon stel om oor te duik.

Die spanning het breekpunt bereik in die laaste vyf minute, maar die Klofies kon vasbyt vir hul geskiedkundige oorwinning en die vooruitsig om Monnas Saterdag te ontmoet om die nuwe kampioen te bepaal.

Terloops, dit was waarskynlik ’n fout – en onbillik – om van Ruan Fluks te verwag om in die laaste sekondes die wedstryd vir sy span te wen met ’n strafdoel van langer as 60 meter. Die Garsies sou waarskynlik ’n beter kans gehad het as hulle lyn toe geskop het en dan van die lynstaan af probeer het om die doellyn te haal óf een van hul skoppers in ’n skepdoel possisie probeer plaas het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button