Hoërskool Centurion wen Noordvaal se Bowl-afdeling titel na skitter seisoen
Hoërskool Centurion se eerste rugbyspan het die afgelope naweek hul droomseisoen onoorwonne afgelsuit en is as kampioen in die Noordvaal Cup se Bowl-afdeling gekroon toe hulle Potchefstroom Gimnasium in ’n spannende eindstryd verslaan het.
Is Hoërskool Centurion se gloriedae op die rugbyveld weer terug?
Dié skool, wat sowat vyftien jaar gelede met die heel bestes in die Noordvaal streek kon kompeteer en in 2012 selfs die destydse gesogte Tuks-reeks gewen het deur Hoërskool Waterkloof in die eindstryd te verslaan, kon intussen nie weer enige noemenswaardige silwerware inpalm nie.
Dinge het egter verander sedert André Labuschagne as nuwe hoof oorgeneem het en ná ’n goeie seisoen in die Noordvaal Cup se Afdeling-2 verlede jaar, het Centurion vanjaar in die Bowl-afdeling skitterende rugby gespeel en die liga-seisoen onoorwonne afgesluit.


Daarna het die Woeries die afgelope twee weke met beide die deelnemers uit Potchefstroom afgereken om as die kampioen gekroon te word.
Verlede week het hulle Potchefstroom Volkskool met 26-17 in die halfeindstryd uitgeskakel en die afgelope naweek het Centurion die kroon gespan op ’n droom-seisoen deur Potchefstroom Gimnasium met 27-24 te klop om as kampioen gekroon te word.
– Ná ’n effense armdruk-fase in die eerste sewe minute van die wedstryd het Centurion se aanvallende benadering vrugte begin afwerp toe agtsteman Darius Durie kon oorduik om die telbord aan die gang te kry.
Die tuisspan het hul voorsprong gerek toe die slot Ruben Pretorius se drie ná ’n puik dryfbeweging vanaf ’n lynstaan gevolg het.

Foto: Erick Jonck

Hoewel die besoekers dié sewe punte uitgekanseleer het met ’n drie van hul eie, het ’n strafdoel en die flank CJ Niemandt se drie ná die rustyd toeter die nuwe kampioenspan met ’n voorsprong van 20-7 laat terugkom vir die tweede skof.
Malan le Roux, Centurion se ander flank, het sowat 45 meter genael vir sy drie nadat hy ’n losbal opgepik het kort na die begin van die tweede helfte. Dit was die Woeries se laaste punte.
Daar was wel nog geleenthede vir die tuisspan, maar die Noordwesters het met nuwe durf gespeel nadat hulle kon gaan druk toe Centurion se geledere uitgedun is weens ’n geelkaart.


Foto: Erick Jonck
Gimmies se derde drie laat in die wedstryd het gesorg vir ’n spannende laaste minuut van aksie, maar die tuisspan se verdediging het gehou en hulle kon op die voorvoet eindig voor die eindfluitjie geblaas het om hul triomf te bevestig.
Uiteindelik het die seuns van Noordwes nie net opgedaag om deel te neem nie, veral as hul pakslae van 15-47 vroeër vanjaar teen die Woeries in ag geneem word. Hulle het hul harte uitgespeel om van dié einstryd ’n skouspel te maak.
Met hul stewige pak voorspelers wat die vaste fasette kon oorheers, puik vaardighede, stewige verdediging en positiewe aanslag het Centurion egter verdien om die eindstryd te wen. Hul sukses is nie net baie goeie nuus vir die skool nie, maar ook vir die streek.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
