Garsfontein is Pretoria se enigste hoop in Tuksreeks
Die Hoërskool Garsfontein het Saterdag deurgedring na die halfeindrondte van die gesogte Tuksreeks, waaraan sestien top skole noord van die Vaalrivier jaarliks deelneem.
Ná die afgelope Saterdag se kwarteindronde wedstryde is Hoërskool Garsfontein se eerstespan die enigste oorblywende kandidaat uit Pretoria wat vanjaar nog aanspraak kan maak op die titel as die Tuks-reeks kampioene vir 2015.
Dit volg nadat die Bere van Garsfontein die afgelope naweek hul kwarteindronde wedstryd teen Hoërskool Pietersburg met 46-17 gewen het.
Hoewel Garsfontein se span waarskynlik nie vanjaar so sterk soos verlede seisoen is nie, het hulle ten minste ‘n kans om hul aanslag op die titel in hierdie gesogte reeks voort te sit.
Die ander drie skole wat na die halfeindronde deurgedring het is Hoërskool Monument van Krugersdorp, Hoërskool EG Jansen van Boksburg en Hoërskool Nelspruit. Garsfontein sal nou in die halfeindronde te staan kom teen Hoërskool EG Jansen, terwyl Monument en Nelspruit in die ander halfeindronde sake sal uitspook. Dié wedstryde word op 1 Mei in die Tuks rugbystadion beslis.
Hoërskool Eldoraigne was die ander plaaslike skool wat voor Saterdag se kwarteindrondes nog ‘n kans gestaan het om die nuwe Tuks-reeks kampioene te word. Hulle het Saterdag in Centurion goed begin teen EG Jansen en halfpad deur die eerste helfte nog voorgeloop. Daarna het die Boksburgers se groot en swaar pak voorspelers egter beheer oorgeneem en Eldoraigne se verdediging het begin verkrummel.
Hoewel Eldoraigne nooit opgegee het nie en tot die einde bly veg het, het EG Jansen uiteindelik met 35-15 gewen.
Hoërskool Centurion, wat Saterdag gasheer gespeel het vir ‘n groot groep skole in die Tuks-reeks se kwarteindronde, het met hul oorwinning oor Hoërskool Klerksdorp seker gemaak dat hulle darem onder die top twaalf in die toernooi sal eindig. Hulle het die Noordwesters met 21-12 geklop.
