Gestremde skoolseun ryg die medaljes in op kampioenskap
’n Twaalfjarige gestremde atleet van Centurion het volgens kenners die talent om binnekort ’n nasionale ster op die atletiekbaan te word.
Vier medaljes – twee keer goud en twee keer silwer – op die nasionale kampioenskap is nie sommer elke atleet beskore nie.
Dít is die prestasie waarmee die 12-jarige Pierre Thomas van Centurion spog ná sy onlangse deelname aan die nasionale atletiekkampioenskap vir fisiek-gestremde junior atlete, wat onlangs by die Universiteit van Johannesburg aangebied is.
Thomas is ’n graad ses-leerling aan die Laerskool Wierdapark in Centurion. Hy het tydens die afgelope skoolvakansie die Gauteng skolespan verteenwoordig.
Hy het meegeding in die afdeling vir seuns o.16 (T44/F44), waar hy goue medaljes in die 100m en hoogspring verwerf het, terwyl hy silwer medaljes ontvang het vir sy tweede plekke in verspring en gewigstoot.
Thomas is met ’n defek in sy onderbene gebore en is dus sy lewe-lank al gestremd. Tog het hy volgens sy ma, Liana, van kleintyd af so normaal moontlik grootgeword. Hy is ook ’n goeie swemmer en jare al ’n aktiewe Voortrekker waar hy op kampe aan byna al die aktiwiteite deelneem. Hy is ook ’n goeie bergfietsryer.
Liana Thomas het aan Rekord gesê kenners was veral besonder beïndruk met haar seun se vertoning in die hoogspring, waar hy maklik gewen het sonder veel afrigting of oefening. Sy is nou dringend op soek na ’n afrigter vir hom, want hy het beslis die talent om groter sukses met hoogspring te bereik.
Thomas se volgende groot mikpunt is om volgende jaar vir die junior nasionale span te kwalifiseer, waar hy veral in die 100m en hoogspring wil spesialiseer. Hy gaan binnekort ook sy vermoë in die die 800 meter toets.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.
