Onoorwonne o.16’s van Tuine wen Superreeks
Die Hoërskool Tuine se o.16 rugbyspan het tot dusver vanjaar ’n uiters suksesvolle seisoen beleef en is ná twee toernooie steeds onoorwonne.
Die Hoërskool Tuine se o.16 rugbyspan het nog nie vanjaar verloor nie en hulle het reeds in twee verskillende toernooie as top span uitgestaan.
Tydens die Aprilvakansie was Tuine een van die skole wat deelgeneem het aan die gesogte Hansie-week, wat jaarliks op Naboomspruit aangebied word. Daar het hulle drie wedstryde gespeel en al drie gewen. Hoewel daar nie amptelik ’n kampioen gekroon word op hierdie toernooi nie, kan Tuine trots wees op hul onoorwonne rekord. Hulle het by dié toernooi met spogskole soos Pietersburg, Curro Heuwelkruin en Midstream College afgereken.
Die titel waarmee hulle wel openlik kan spog is dié van o.16 kampioene in die Coca Cola Superreeks. Tuine het in hierdie reeks met HTS John Vorster (53-3), Gerrit Maritz (51-0), Brandwag (24-10) en Ligbron (18-12) afgereken, terwyl hulle in die finaal met 24-elk gelykop gespeel het met Jan Viljoen.
Volgens die reëls van die kompetisie word die span wat eerste punte aangeteken het as wenners aangewys in die geval van ’n gelykop-uitslag. Só is Tuine dan as die wenners van die trofee aangewys.
