School sportSport

Junior atletiekster van Montana laat die rekords spat

Die 17-jarige Taylon Bieldt se vermoë in die 100m hekkies word hierdie naweek getoets teen senior atlete by die Suid-Afrikaanse Ope kampioenskappe in Potchefstroom.

As Taylon Bieldt, ’n graad 11 leerling aan die Hoërskool Montana in die noorde van Pretoria voortbou op haar atletiekprestasies van die afgelope maande, sal haar ouers binnekort ’n baie groter vertoonkas moet aanskaf om al haar medaljes en trofeë in te bêre.

Dié 17-jarige spoedvraat is nog nie vanjaar in die 100m hekkies geklop nie, terwyl sy ook besonder goed presteer in die 400m hekkies. Haar versameling goue medaljes wat net in die afgelope seisoen verower is, kan alleen byna ’n vertoonkas volmaak.

Nadat sy vroeër vanjaar die A-bond kampioen op die plaaslike interhoër in albei items geword het, het Bieldt in die April skoolvakansie alleen agt goue medaljes losgehardloop.

By die nasionale skole-kampioenskappe het sy beide die 100m hekkies en die 400m hekkies vir dogters o.17 gewen, terwyl sy nog twee goues in aflos-items verower het.

Daarna het sy by Atletiek Suid-Afrika (ASA) se junior kampioenskappe weer so gemaak –goud in die 100m hekkies, 400m hekkies en twee aflos items. By hierdie byeenkoms het sy boonop haar persoonlike beste tye in die twee hekkies-items verbeter na 13,27s (100m hekkies) en 59,20s (400m hekkies). Haar tyd in die kort hekkies-item was die tweede vinnigste ooit vir ’n o.17 dogter in Suid-Afrika en net drie tiendes van ’n sekonde stadiger as die huidige SA rekord in dié eiendomsgroep.

Om dié SA rekord te laat spat is juis een van haar doelwitte wat sy voor die einde van die seisoen wil behaal. Sy het by die pas afgelope Afrika junior kampioenskappe in Mauritius weer naby daaraan gekom, maar sy kon met ’n tyd van 13,30s slegs daarin slaag om ’n nuwe Afrika-rekord in haar ouderdomsgroep op te stel. Op die koop toe het sy ook ’n nuwe Afrika rekord in die 400m hekkies opgestel toe sy dié item in 59,2 sekondes gewen het.

Eerskomende naweek kry Bieldt weer ’n kans, wanneer sy as skooldogter saam met die senior dames in die 100m hekkies gaan aantree by die Suid-Afrikaanse Ope kampioenskappe in Potchefstroom.

Die spreekwoord sê die appel val nie ver van die boom nie en in Bieldt se geval verklaar dit ook haar besondere talent. Haar ma en afrigter, Charmaine du Toit, was in haar jonger dae ook een van die land se top hekkies atlete. As skooldogter het sy verskeie SA titels verower in die 100m en 200m naellope. Nadat sy haar later op driekamp toegespits het, het Du Toit teruggekeer na die atletiekbaan as ’n meesters-atleet, waar sy as naelloper al wêreldtitels gewen het. So onlangs soos 2009 was sy nog as naelloper die wêreld se derde vinnigste vrou in die ouderdomsgroep 35-40, terwyl sy as kampioen gekroon is in die 100m hekkies.

Du Toit neem steeds deel en het ’n maand gelede weer die 100m hekkies en 400m hekkies items op die Gauteng-Noord Meesterskampioenskappe gewen.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button