Classic Clash tussen Eldoraigne en Zwartkop beloof volop aksie
In Centurion lei alle paaie op Saterdag 23 Mei na die skoolterrein van die Hoërskool Eldoraigne, vir die Classic Clash sportdag tussen dié skool en hul bure, die Hoërskool Zwartkop.
Net soos plaaslike derbies in die SupeRugby toernooi het derbies tussen buurskole reg oor Suid-Afrika oor die jare ’n spesiale status opgebou wat veroorsaak dat dit altyd groot belangstelling lok.
Saterdag se Beeldtrofee-wedstryd in die afdeling vir Makro Skole tussen Eldoraigne en hul bure net anderkant die Ou Johannesburgpad, Zwartkop, is terselfdertyd ook deel van FNB se Classic Clashes.
Hierdie Classic Clashes word geborg deur First National Bank (FNB) en tydens sulke tweestryde meet twee skole kragte op die rugby- en netbalvelde. Hokkiewedstryde tussen die twee skole se seuns- en dogterspanne vind ook plaas, maar is nie amptelik deel van die Classic Clash nie.
Dié wedstryde trek baie aandag en baie prestige en eer is op die spel vir die deelnemende skole.
Die eerste FNB Classic Clash tussen die Hoërskool Zwartkop en Hoërskool Eldoraigne het in 2008 plaasgevind op die terrein van Hoërskool Zwartkop. Sedertdien het dit jaarliks gewissel tussen die twee skole wat onderskeidelik as gashere opgetree het.
Saterdag se aksie op die rugby-, netbal- en hokkievelde van Eldoraigne begin reeds om 08:00. Die hoogtepunt van die dag bly egter die wedstryd tussen die twee skole se eerste rugbyspanne. Dié wedstryd sal eerskomende Saterdag om 12:15 afskop.
Hoewel Eldoraigne waarskynlik die gunsteling is om hierdie stryd te wen, kan Zwartkop nooit onderskat word nie. Laasgenoemde het vanjaar gemengde resultate behaal, maar Deon Richardson en Fiellies Coetzee is uitgeslape afrigters en hulle sal beslis ’n troefkaart of twee in die mou hê vir hul bure.
Die tuisspan het vanjaar baie goed gevaar in die TuksReeks en sewe van die skool se spelers is steeds deel van die Bloubul skolekeurders se spanne wat binnekort in proefwedstryde teen ander provinsies sal speel.
Hierdie is egter nie verniet ’n Classic Clash nie en klipharde skolerugby uit die boonste rakke word Saterdag verwag.
