Oos-Moot rugby gaan van krag tot krag
Die Hoërskool Oos-Moot beleef vanjaar ’n besondere voorspoedige jaar op die rugbyveld waar ál hul spanne presteer.
2015 is beslis die jaar waarin in die Hoërskool Oos-Moot se rugbyprestasies in die geskiedenisboeke sal uitstaan.
Die skool het reeds vroeg in die seisoen begin presteer toe twee van hul spanne hul onderskeie afdelings by die gesogte Hansieweek op Naboomspruit gewen het.
Sedert die begin van die Beeldtrofee reeks is dié twee spanne, die o.16’s en die eerstespan, steeds onoorwonne in die grootskole-liga.
Oos-Moot het die afgelope naweek teen Hoërskool Pretoria-Noord in die Beeldtrofee reeks gespeel en al hul spanne, van die o.14’s tot by die eerstespan, het hul wedstryde gewen. Daarmee het Oos-Moot se spanne almal verseker dat hulle as wenners van die Pretoria-afdeling in die grootskole-liga uittree.
Die skool se o.14A span het tot dusver vanjaar 260 punte aangeteken en net 27 punte afgestaan in sy liga.
Die o.15A span het 195 punte aangeteken in sy vyf ligawedstryde en 26 afgestaan.
Die o.16A span het tot dusver 322 punte aangeteken en slegs 13 afgestaan.
Dié spogspan (o.16’s) het ook in sy drie wedstryde tydens die die Hansieweek 118 punte aangeteken sonder om ’n enkele punt af te staan. Dít het hy vermag teen top skole soos Florida, Hoogenhout en Noord-Kaap. Laasgenoemde was sy teenstander in die finaal by die Hansieweek, maar Oos-Moot se o.16-manne het dié Noord-Kapenaars met 38-0 afgeransel.
Die skool se eerstespan, wat by sy ondersteuners bekendstaan as die “Blou Golf”, beleef ook ’n baie suksesvolle jaar. Hy het ook die Hansieweek gewen toe hy met sy bure, HTS John Vorster in ’n klipharde wedstryd met 3-0 afgereken het.
In die Beeldtrofee reeks vir groot skole het Oos-Moot se eerstes tot dusver 272 punte aangeteken en slegs 51 punte afgestaan.
Al die skool se spanne saam het in die Beeldtrofee liga sover 166 drieë gedruk en slegs 14 afgestaan.
Drie van Oos-Moot se eerstespan spelers se prestasie het die afgelope week die kroon gespan op dié skool se uitstaande rugbyjaar. Marcel Scholten, Frikkie Deysel en JP Alberts is al drie gekies vir die Blou Bulle se o.19 Noordvaal span, wat aan die Noordvaal toernooi sal deelneem in die Julie skoolvakansie. Dié span is een van die drie senior verteenwoordigende skolespanne wat jaarliks deur die Bulle gekies word. Die ander twee is die o.18 Cravenweekspan en die o.18 Akademiespan, wat aan hul onderskeie toernooie gaan deelneem.
