Dewald Wasserfall gesels oor sy nuutste album
Dewald Wasserfall verklap meer oor sy nuwe album #EkEnJy en deel sy resep tot sukses.

Die naam Dewald Wasserfall is deesdae op almal se lippe en aanhangers stormloop behoorlik om hulle hande op sy jongste album #EkEnJy te kry.
Dié album spog met 15 splinternuwe treffers en daar is geen twyfel nie dat #EkEnJy soos soetkoek gaan verkoop.
Rekord het met die bekende sanger gaan gesels om meer oor sy jongste album en ook sy optrede later vanjaar by die Afrikaans Is Groot-konserte.
Hoe sal jy die styl van die album beskryf?
Met dié album kan mense uitsien na ‘n vars mengsel van pop, rock en elektroniese musiek.
Jou album spog met musikante soos Denny Lalhouette, Susan Mouton en Vinnie Henrico, hoe was dit om saam met sulke groot name te werk?
Dis ongelooflik belangrik om jouself te omring met mense wat jou inspireer. Ek respekteer elke persoon wat aan hierdie album gewerk het geweldig baie. Dit was ‘n groot voorreg om met nét die bestes te werk.
Hoe lank het dit geneem om hierdie album op te neem?
Vanaf die eerste woord geskryf is tot dit uitgereik is, ongeveer twee jaar.
Wat maak hierdie album anders as jou vorige album?
Die album se klank is bietjie meer internasionaal en die temas is bietjie meer divers.
Kan ons op die uitkyk wees vir ‘n nuwe musiekvideo of dalk ‘n toer?
Beslis. Die musiekvideo vir Gebore om te Lewe is op pad, en ons werk aan ‘n groot toer in Desember.
Hoe balanseer jy jou werk en jou persoonlike lewe?
Dit is moeilik, maar ek probeer om tydens af tye soveel as moontlik tuis te wees, by my vrou, vriende en familie.
Hoe het jy by die Afrikaans is Groot musiek-konsert betrokke geraak?
My platemaatskappy, Johan Vorster Songs, is een van die stigterslede, en nadat ek aan die kriteria voldoen het (onder andere verkope van meer as 20 000), is ek gevra om deel te wees daarvan.
Wat kan ons volgende van Dewald Wasserfall verwag?
Hierdie jaar is dit die Afrikaans is Groot konserte, waarna ek baie uitsien en volgende jaar doen ek die Jukebox bootreis, Daar is ook ‘n groot buitelandse toer in die pyplyn.
Enige boodskap vir jou aanhangers of advies vir toekomstige sangers?
Werk hard en glo in jouself. Dis aansteeklik.
Om meer oor #EkEnJy te lees klik hier of volg Dewald op twitter.
Vir meer video’s klik hier.
