EntertainmentLifestyle

Iets heeltemal nuuts vir Jak de Priester

Jak de Priester se jongste album is heeltemal anders as sy vorige albums en fokus dié keer op iets baie na aan sy hart.

Hy is bekend vir gewilde treffers soos Sally Williams Nougat en Groen Mamba, maar dié keer het Jak de Priester ‘n perd van ‘n veel ander kleur opgesaal. Na die sukses van sy vorige sewe albums het Jak onlangs besluit om ‘n kinderalbum getitel Myne! Myne! Myne! vry te stel, te danke aan sy eie twee woelwaters, Jamie (4) en Mija (3).

Rekord het met dié bekende sanger gaan gesels oor sy jongste projek asook die probleme en pret wat die album opgelewer het.

Hoe vergelyk Myne! Myne! Myne! met jou vorige albums?
Dit is my eerste en enigste kinderalbum en bevat liedjies wat ek geskryf het oor die ondervindinge in ons huis – met my kinders, drie- en vier jaar oud. Ons het die laaste vier jaar so baie Carike Keuzenkamp en Lollos geluister dat ek eendag net besluit het ek kan nie meer nie. Ek het besluit om net iets nuut te skryf en daar is eintlik so min kinderliedjies wat deur manlike kunstenaars gesing word.

Daar gebeur so baie dinge in klein kindertjies se lewens en ek het dit goed gedink om hul ervarings in liedjies te verander. Elke liedjie is soos ‘n toneel wat in ons huis afgespeel het.

Dit vergelyk glad nie met my vorige albums nie, dit het geen beperkings – dit is soos ‘n sirkus ‘anything goes’.

Wat was jou grootste inspirasie vir die album?
My eie kinders, en dit was vir my so lekker om hulle uitkyk op die lewe in liedjies vas te vang.

Is enige van die liedjies opgedra aan jou kinders?
Ja, daar is twee liedjies spesifiek opgedra aan hulle, die een is getiteld Gebed vir Mija vir my dogtertjie en Hippie-Haai vir my seuntjie, Jamie.

Was daar enige uitdagings tydens die maak van die album?
Ek het aanvanklik gedink die dag wanneer al die kinders in die studio moet kom saamsing gaan ‘n uitdaging wees, maar hulle was so professioneel, mens sal dink hul sing al jare in ‘n ateljee.

Wat kan ons volgende van Jak verwag?
Ek is tans hard besig met die opname van my nuwe kontemporêre volwasse album wat ek vroeg volgende jaar wil vrystel en dan begin ek eersdaags die derde reeks van Reis na Gister opneem.

Hoe balanseer jy jou persoonlike lewe en jou werk?
Ek toer nie meer so lank soos voor die kinders nie. Twee tot drie dae toere is vir my genoeg want ek verlang te veel. Maar as ek tuis is, spandeer ek baie tyd saam met hulle. Mens vat maar elke dag soos hy kom.

Enige nuwe musiekvideos of toere waarna ons kan uitsien?
Ja baie! Vir my nuwe album sal ek defintief so gou as moontlik ‘n enkelsnit vrystel, ons is net nog nie seker van watter liedjie nie. Volgende jaar toer ek ook met die nuwe album, maar vir hierdie jaar stel ek ook nog ‘n kinder DVD vry waarvan Diek Grobler, die animasie kunstenaar, al die animasies vir die liedjies gedoen het. Die liedjies is elk soos kort kinderrolprentjies, dit is werklik baie oulik!

Jy is later vanjaar op die verhoog tydens die Afrikaans is Groot-konsert, sien jy uit daarna?
Dit is altyd ‘n groot eer om deel van AIG te wees want deur die res van die jaar tree mens so baie in skoolsale en kerksale op en kry min die geleentheid om voor 7 000 mense op ‘n slag op te tree. Dit is die een keer in ‘n jaar waar jy rerig soos “Lady Gaga” kan voel!

Vir videos van Jak klik hier of volg hom op twitter.

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button