EntertainmentLifestyle

Jong opkomende aktrise – Stephanie Gericke

Ons praat met opkomende aktrise, Stephanie Gericke (23) oor haar lewe in die vermaaklikheidsbedryf.

Wanneer hierdie 23-jarige meisie haar hart op ‘n ding sit, kan jy maar weet dit gaan gebeur. Terwyl haar ouers, sport sielkundige Henning Gericke en sy vrou Henelie, in die sportwêreld gedy, werk dié Pretorianer volstoom aan haar loopbaan as aktrise.

Sy het ingestem om ‘n paar vrae van Rekord beantwoord.

Jy was onlangs deel van die Cool Capital (mobile riller) produksie ONSkuld, vertel ons meer van jou betrokkenheid daarby.

Antwoord: Hierdie produksie was die eerste in sy soort in Suid- Afrika en het grootliks gegaan oor die lewens van ses karakters wat betrokke geraak het by ‘n onverwagte moord. Die tekste, geskryf deur Corné Joubert, Jannes Erasmus en Johann Smith, is op die ou einde tussen drie karre verdeel en die regie en ontwerp is gedoen deur Quintin Wills.

Die gehoorlede is in die drie karre verdeel waarin die ontknoping van die moord verhaal begin het maar die laaste deel van die produksie was ‘site- specific’.

Ek het die rol van ‘n bipolêre lesbiese meisie (Molly) vertolk wat uitgaan en gedrink het om van haar probleme te vergeet. Molly het by en van die karre ingeval waar sy skielik moes besef dat al haar probleme maar nog pas begin het.

Behoort jy tans aan ‘n agentskap?

Ja, ek het aan die begin van die jaar by Thespians Artist Agency kontrak geteken en ek is baie gelukkig daar.

Wanneer het die drama-gogga gebyt?

Ek is van kleins af al ‘n “drama queen.” Ek dink ek het my ma effens mal gemaak met al my idees, stories en streke, en sy het my ingeskryf vir drama klasse. Daarna het ek net op drama as beroep verlief geraak. Om stories te vertel was en is nog altyd ‘n groot deel van my liefde vir drama.

Jy was onlangs by Aardklop in die produksie Melusine van Arcadia by die Pierneefteater te sien. Daar is dele waar jy bostukloos moes verskyn, vertel ons hoe jy daaroor gevoel het?

Naaktheid (en hoeveel naaktheid) op die verhoog en film is elke akteur se persoonlike keuse. Omdat ek jonk is en aan die begin van my loopbaan staan was ek aanvanklik effens bekommerd daaroor om bostukloos op die verhoog te verskyn. Ek het baie daaroor gedink en besluit dat as ‘n rol naaktheid regverdig en ek gemaklik daarmee is het ek geen probleem om dit te doen nie. Naaktheid net vir kontroversiele redes of eksplisiete naaktheid is vir my persoonlik sinneloos. So as naaktheid bydra tot die geheel van die finale produk en ek persoonlik gemaklik is, doen ek dit as akteur.

Wat kan ons volgende van Stephanie verwag?

Ek is tans besig met ‘n komedie-teaterproduksie van Johann Smith wat eersdaags in teaters regoor die stad te sien sal wees. Ek werk ook aan ‘n klug genaamd, “Wie Hyg So? ” wat geskryf is deur Braam van der Vyfer en die regie word gedoen deur Johann Smith. Dan is ek en ‘n kollega ook besig om ons eie produksiemaatskappy op die been te bring.

Baie mense sê daar is nie geld indrama, hoekom doen jy dit?

Ek doen dit belis vir die liefde daarvan, alhoewel ek weet dat jy as akteur en mens ‘n lewe daaruit moet maak om jouself te onderhou. Ek besef dat drama as beroep jou nie ‘n vaste inkomste beloof nie daarom glo ek dat mens alles moontlik moet doen en betrokke moet bly by verskeie projekte.

Hoekom het jy drama gekies en nie ‘n loopbaan in sport soos jou ouers nie?

Ek het op skool sport op provinsiale vlak beoefen en dit baie geniet maar uiteindelik het die drama geseëvier. Ons is ‘n baie sportiewe familie en deur my pa wat steeds betrokke is bly ek op hoogte van alles wat in die sportwêreld aangaan.

Hoe ontspan jy in jou vrye tyd?

Ek is baie lief vir skryf, ek doen staproetes saam my vriende en familie en is versot op die see. Die beroep vereis baie van jou en my kêrel is ook in die vermaaklikheidswêreld, so as ons tyd vry het doen ons moeite om by mekaar uit te kom.

Wat sal jy nog graag in die industrie wil bereik?

Ek is bereid om baie hard te werk en my droom is dat my naam eendag langs die sal staan van akteurs waarna ek opsien, soos Sandra Prinsloo, Anna- Mart van der Merwe, Shaleen Surtie-Richards, Marius Weyers , Nicola Hannekom en Sharlto Copley.

Vir meer oor Stephanie volg haar op Facebook (https://www.facebook.com/stephanie.gericke.9?fref=ts) of Twitter (Gericke1Gericke).

Vir gratis gemeenskapsnuus besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ons Facebook-blad en volg ons op Twitter.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button