CompetitionsLifestyle

KOMPETISIE: Wen ‘n reeks nie-fiksie boeke

As jy wil bedrywig rondom die huis wil wees hierdie vakansie, is hierdie kompetisie vir jou.

Hou jy miskien van kook? Wat van naaldwerk, hekel of projekte rondom die huis?

Indien wel, is hierdie kompetisie die een vir jou.

As jy hierdie feesseisoen by die huis gaan spandeer, moet jy seker maak om vir die kompetisie in te skryf sodat jy ‘n kans staan om ‘n reeks nie-fiksie boeke te wen.

So lyk die titels:

50 Boerekosgeregte

R150

Kyk, as Dana Snyman die voorwoord skryf, dan weet jy. 50 Boerekosgeregte is ‘n samestelling van resepte uit die kombuise van die Vrouelandbouvereniging van die Noord-Kaap. Krap maar in hierdie pot. Hier is resepte vir weeksdagetes, spesiale geleenthede en familiesaamtrekke, met immergroen treffers soos ‘n korslose souttert, basaarpoeding, gestolde komkommerslaai, kerrievleisvetkoeke, snoektert, karringmelkroosterkoek en groenboontjiebredie.

50 Hoendergeregte

R160

Jy stap ná ’n moeilike dag by die huis in, daar is die reuk van hoender wat prut… Ja, met hierdie resepte is dit moontlik, want selfs die niekokers in jou huis sal dit regkry. Of, as jy self moet kook, dan soek jy juis hierdie resepte met bestanddele wat reeds in jou koskas is of maklik by jou plaaslike supermark bekombaar is. 50 Hoendergeregte bevat 50 veelsydige hoenderresepte wat aan gesinne maaltydinspirasie gedurende moeilike ekonomiese omstandighede bied.

Oondgerooster, oor die kole, as deel van bredies, sop of pasteie – hoender is maklik om voor te berei en ’n ekonomiese keuse vir elke gesin. Die resepte bestaan uit treffers soos: Blatjanghoender, Oros-hoender, Hoenderbobotie, Romerige hoenderstroganoff, Pikante hoender-en-lensiesop, Pynappelhoender, Hoender-en-brokkoli, Hoendersamoesas ’n Appelkoos-en-hoenderpotjie.

Sielsiek: Die psiges van SA se koelbloedigste kriminele

Carla van der Spuy en Dr. Henk Swanepoel.

R230

Waarom haak mense se koppe uit? Chris Mahlangu, wat vir Eugene Terre’Blanche vermoor het, het hom nie net doodgeslaan nie, hy het hom letterlik in stukke gekap met ’n staalpyp. Een jong man slaan ’n verpleegster met ’n stuk hout in die veld dood en haar kêrel tot in die hospitaal se waakeenheid. ’n Ander slaan beide sy aanneemouers bewusteloos met ’n krieketkolf en dan steek hy hulle meer as 20 keer elk in die bors met ’n mes, voor hy sy pa keelaf sny. ’n Manlike prostituut slaan sy vriend soveel keer met ’n knopkierie oor sy “onsedelike voorstelle” dat dié aan skedelbreuk sterf.

Waarom sal ’n heteroseksuele man wat by prostitute slaap ’n seun by ‘n winkelsentrum oplaai en met hom lol? Vyf gevallestudies oor ware Suid-Afrikaanse geweldsmisdadigers, vertel deur ervare misdaadskrywer Carla van der Spuy en kliniese sielkundige dr. Henk Swanepoel. Die boek bevat inligting oor persoonlikheidsversteurings, elke misdadiger se agtergrond, die dag van die misdaad, die hofsaak, dr. Swanepoel se onderhoude en bevindings tydens die verhoor, tot die opvolg tronkbesoek – van aangesig tot aangesig met die persoon. Die boek is ook, oor ’n paar weke, in Engels as Disturbed beskikbaar.

Clover Gunsteling Suid-Afrikaanse Kos

R200

Suid-Afrika is ’n wonderlike vermenging van kulture en nêrens is dit meer duidelik as in die interessante verskeidenheid tradisionele kosgunstelinge nie. Die kombinasie van inheemse kulture en honderde jare se immigrasie beteken dat Suid-Afrika een van die wêreld se mees kleurryke en diverse kostradisies het.

In Clover Tradisionele Suid-Afrikaanse Gunstelinge deel ons iets van die verskeidenheid – soos ’n Bunny Chow, romerige marog, smoorsnoek, soetsuurlewer, vetkoek, isidudu, mashonza (mopaniewurms), wildspastei en botterhoender. Met Clover aan die stuur, val die kollig natuurlik op Cloverprodukte wat op slim maniere ingewerk word om smullekker resepte te ontwikkel – van ligte etes tot hoofgeregte en ietsie soet. Marlo Carstens het elkeen van die resepte getoets en toeganklik gemaak. ’n Persentasie van die boek se verkope word aan die Clover Mama Afrika-projek geskenk.

Kompetisie:

Twee lesers staan ‘n kans om elk een van hierdie titels te wen. Om in te skryf vir die kompetisie, vul die inskrywingsvorm op Rekord se webwerf in en gebruik die sleutelwoord ‘NIE-FIKSIE1’.

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button