KOMPETISIE: Wen kaartjies om Snotkop & Vriende op verhoog te sien
Staan 'n kans om lekker kaartjies te wen na Snotkop se opwindende groepvertoning.

Die sanger Snotkop en vier van sy vriende – Juanita du Plessis, Jay, Early B en Kurt Darren – gaan op Sondag, 31 Maart die Sun Arena in Pretoria se dak lig vir die Snotkop & Vriende konsert.
“Ek het nog altyd daarvan gedroom om eendag só ’n konsert te doen,” sê Snotkop.
“Die vriende wat saam my optree is mense vir wie ek soveel respek het, en legendes is in die musiekbedryf,” vertel Snotkop oor dié konsert, wat ’n mengsel van pop, rap en dansmusiek gaan bevat.
Snotkop, se jongste album Sous wat onlangs goue status bereik het, gaan konsertgangers bederf met van die treffers op dié album. En net soveel treffers deur sy vriende gaan ook gehoor kan word.
Francois Henning, oftewel Snotkop, se selfgetiteld debuut-album is in 2005 uitgereik.
Sedertien spog hy met onder meer ’n hele rits goue, platinum en selfs trippel-platinum toekennings en het die Ghoema-toekenning vir die digitale liedjie van die jaar in 2017 gewen.
Konsertgangers kan ook regmaak vir vele verrassings op die aand.
“Ek en Early B gaan iets saam doen en vir die heel eerste keer ek en Juanita ook,” verklap Snotkop.
Juanita du Plessis is geen vreemdeling op die musiektoneel nie.
Dié sangeres het immers 20 jaar in die musiekbedryf in 2018 gevier en spog met verkope van meer as twee miljoen. Treffers soos “Ska Rumba”, “Engel van my hart”, “Gaan Groot” is onder andere op Juanita se kerfstok.
Jay du Plessis het bekendheid verwerf as lid van die groep EDEN.
Sedert sy solo-loopbaan in 2010 afgeskop het spog hy met treffers soos “Melanie”, “Dis Hoe Ons Rol” en vele meer.
Kurt Darren is die koning van sokkie en spog met treffers soos “Meisie Meisie”, “Staan Op” en “Laat Die Dansvloer Brand”. Hy het ook verskeie musiekpryse op sy kerfstok.
Early B se album Aangename Kennis het die land aan die brand met treffers soos “Ben Ten” en “Potte” . Sy energie op die verhoog is onblusbaar.
Benewens al die musiek is daar ook heerlike pryse op die spel vir konsertgangers, maar hieroor wil Snotkop nie veel verklap nie.
As jy nog nie kaartjies vir die konsert het nie, moedig Snotkop graag aan met dié boodskap: “Dis op ’n Sondag, so bring vir ma, pa, ouma, oupa, boetie, sussie en maak ’n uitstappie daarvan. Dit gaan ’n show vir die hele familie wees.”
Kaartjies vir Snotkop & Vriende op 31 Maart in die Sun Arena van Pretoria is nóú by Computicket beskikbaar. Kaartjies kan ook by enige Checkers, Shoprite of House & Home aangeskaf word.
KOMPETISIE:
Rekord het twee dubbelkaartjies om weg te gee. Om in te skryf vir die kompetisie, vul die onderstaande vorm in en gebruik ‘SNOTKOP EN VRIENDE’ as die sleutelwoorde.
