Klofies weer NWU Sportreeks kampioen
Die Hoërskool Waterkloof se eerste rugbyspan is weer die alleenhouer van die titel as kampioen van die NWU Sportrees nadat hulle Die Hoërskool Menlopark die afgelope Saterdag in ’n opwindende eindstryde klop het.
Die Hoërskool Waterkloof se eerste rugbyspan is Saterdag vir die tweede keer in drie jaar as alleenhouer van die titel as kampioen van die NWU Sportreeks gekroon, nadat hulle hul tweestryd met Die Hoërskool Menlopark in die eindstryd van die toernooi met 33-28 gewen het.
Soos albei die vorige eindstryde in 2024 en 2025 van hierdie toernooi waarin dié twee skole teen mekaar te staan gekom het, was Saterdag se wedstryd weer ’n klipharde en spannende kragmeting waarvan die uitslag eers in die laaste paar minute met goeie verdediging deur die Klofies bepaal is.
Nadat die twee spanne velede jaar die louere gedeel het, het die Klofies Saterdag in Kemptonpark hul oorwinning van 2024 herhaal.

Foto: Lizha van Rensburg
Beide spanne het tot dusver die seisoen gewys dat hulle oor puik spanne beskik en dit was gou duidelik dat daar min te kies sou wees in hierdie eindstryd. Die wedstryd het teen ’n baie hoë tempo begin en albei spanne het van die begin af positiewe, aanvallende rugby gespeel.
Dit was Klofies wat eerste punte kon aanteken nadat hul heelagter, Alexander Griesel, ’n gaping kon vind toe die bal wyd gespeel is ná ’n paar fases deur die voorspelers in die rooi gebied.
Skaars twee miniute later het Menlo se kaptein, Dian Bosshoff, egter sake gelyk gemaak deur die Klofies by ’n losskrum aan die slaap te vang en te druk nadat hy steelkant om gebreek het.

Griesel se tweede drie het gekom nadat hy self met ’n teenaanval begin het vanuit sy eie gebied. Linkervleuel Jacques Jansen van Rensburg is in besit gestel en hy het ver genael voordat hy kon terugspeel na Griesel om af te rond. Die Klofies kon dus gaan water drink met ’n 14-7 voorsprong.
Waterkloof het waarskynlik die oorwinning beklink met twee goeie drieë in die eerste sewe minute van die tweede helfte. Eers het skrumskakel Marcel Tsiakos gedruk na ’n breekslag wat weer gevolg het op goeie fases in die rooi gebied. Daarna het waarskynlik die beste drie van die dag gevolg toe die Klofies eers links en daarna regs oor die veld geslaan het, met Almero Gerritsen wat kon afrond nadat voor- en agterspelers om die beurt die bal in dié beweging hanteer het.





Die Parkies het egter karakter en veggees gewys en met ’n agterstand van 21 punte het hulle hul terugvegpoging begin met twee kragdrieë vanaf dryfbewegings – eers deur reserwe haker Jacques Wiltz en daarna deur die slot, Dawid van der Heever.
Twaalf minute voor die eindfluitjie het Klofies egter die voorprong na nege punte vergroot toe hul plaasvervanger haker, Kayden Pruis, oor is na ’n dryfbeweging.
In die laaste tien minute het Waterkloof ’n groot karaktertoets geslaag toe hul verdediging kon hou teen knaende aanvallende spel van Menlopark. Laasgenoemde het selfs die vaste skrums begin oorheers, maar die Klofies kon hulle van die doellyn af weghou tot ná die sirene geblaas het om die einde van die wedstyrd aan te kondig.

Die Parkies het wel daarna die doellyn gehaal, maar dit was te laat om enige verskil te maak aan die uitslag en die bestemming van die NWU Sportreeks se trofee.
– Beide hierdie spanne se ondersteuners kan nou uitsien na ’n baie opwindende seisoen in die Beker-afdeling van die Noordvaal Cup reeks en dis nie vergesog dat hul mekaar dalk later vanjaar weer in ’n uitspeelwedstryd van dié bekende toernooi kan ontmoet nie.
Voor die Noordvaal reeks egter afskop sal Waterkloof eerskomende naweek Kimberley toe reis vir deelname aan die prestigeryke Wildeklawer toernooi, terwyl Menlopark in aksie gaan wees by die nuwe Fairtree Sportfees, wat op hul eie sportvelde aangebied sal word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
