Melgisedek-saak by Grondwethof geregistreer
Die uitspraak van die Gauteng Hooggeregshof van 18 September het die onmiddellike verskuiwingsplan van Melgisedek se inwoners voorlopig tot stilstand gebring. Die registrasie van die hofstukke by die Grondwethof beteken dat die inwoners se besware teen die uitsettingsproses nou verder binne die hoogste hof se jurisdiksie gevoer kan word.
Die regstryd oor die toekoms van inwoners van die Melgisedek-geboue en terrein in die Moot in Pretoria het ’n nuwe stadium bereik.
Hofstukke is volgens Regslui vir Menseregte (Lawyers for Human Rights) by die Grondwethof op 17 September geregistreer, en die metro se voorgenome verskuiwing van inwoners na Capital Park is voorlopig hierdeur gekeer.
Die uitsettingsgeskil rondom die Melgisedek-geboue in Pretoria het dus nou na die Grondwethof verskuif nadat ’n verdere regstap teen die uitsetting deur die metro geregistreer is.
Die ontwikkeling beteken dat die metro se plan om inwoners na ’n alternatiewe terrein in Capital Park te verskuif, vir eers nie voortgaan nie.
Louise du Plessis van Regslui vir Menseregte het aan Rekord bevestig dat die hofstukke by die Grondwethof geregistreer is.
Sy verduidelik daarmee is die inwoners se regsuitdaging teen die uitsettingsproses op ’n nuwe regsvlak geplaas nadat die Hoogste Hof van Appèl nie die inwoners se vorige poging van vroeër vanjaar om die uitsetting te keer, toegestaan het nie en in die metro se guns besluit het.
Die metro het die uitsetting aangevoer op grond van veiligheids- en gesondheidsrisiko’s by die Melgisedek-geboue en die terrein.
Die geboue, naby die Steve Biko Akademiese Hospitaal, is volgens die metro in ’n ernstige toestand en word met probleme soos strukturele verval, brande en gebrekkige sanitasie verbind.
Die inwoners se regsverteenwoordigers betwis egter die geskiktheid van die alternatiewe verblyf wat deur die metro aangebied word.
Die verskuiwing na ’n tydelike terrein in die Capital Park-omgewing het reeds sterk reaksie ontlok, onder meer van inwoners en burgerlike organisasies wat vrae oor die terrein se infrastruktuur en die proses van openbare konsultasie daaroor, geopper het.
Die regsdebat gaan daarom nie bloot oor die vraag of die Melgisedek-geboue ontruim moet word nie, maar ook oor wat met die inwoners gebeur indien hulle wel verwyder word, verduidelik Du Plessis. Die inwoners se regsverteenwoordigers voer aan dat enige alternatiewe verblyf aan die vereistes van menswaardigheid en behoorlike behuising moet voldoen.
Die metro se posisie is dat die bestaande toestande by die geboue ’n dringende veiligheidsprobleem skep en dat die ontruiming daarom nodig is.
Die inwoners en Du Plessis fokus weer op die vraag of die voorgestelde alternatiewe voldoende is en of die proses die inwoners se grondwetlike regte behoorlik beskerm.
“Ons het ’n ingenieursverslag by die hofstukke geliasseer om te wys die geboue wat bewoon word, is veilig. Ons het ook ’n brief aan die metro gestuur om te vra hoekom Melgisedek nie ontwikkel kan word in ’n behoorlike sentrum vir haweloses nie maar het geen antwoord van die metro gekry nie. Ons gaan voort met regstappe omdat hulle nie antwoord nie.”
Kommentaar is van die metro aangevra maar geen is ten tye van publikasie ontvang nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel