Studente trap fietspedale ten bate van kinderhuis
Sonop-studente beoog om R150 000 in te samel vir die Ringerstraat Kinderhuis deur 500km met hul fietse af te lê.
Met kuite wat brand, yslike gees en ’n ondersteuningspan wat bankvas agter hulle staan, het 56 mansstudente van Sonop Christelike Tehuis, manskoshuis aan die Universiteit van Pretoria, onlangs vertrek op ’n fietstoer van bykans 500km ten bate van die Ringerstraat Kinderhuis in Heilbron.
Die Drommedaris fietstoer, of Dromtoer, het op 20 September om 06:00 afgeskop vanaf Sonop manskoshuis in Brooklyn, Pretoria en sal op 24 September, by die Tugela Valle in Kwazulu-Natal tot stilstand kom.
Die fietsryers se roete neem hul deur Heidelberg, Heilbron, Bethlehem en Clarens voordat hulle by die Tugela-waterval eindig.
Nes die eerste Dromtoer van 1960 koersvas na Zimbabwe vertrek het, pak dié groep Sonoppers die langpad aan met die doel om ’n merkwaardige verskil in die lewens van die kinders van Ringerstraat Kinderhuis te maak.
Die Dromtoer word elke tweede jaar aangebied en samel geld vir ’n behoeftige instansie in.
Vanjaar se fietsryers hoop om R150 000 vir die kinderhuis in te samel. Meer as R52 000 is reeds deur die toer se BackaBuddy-veldtog ingesamel, terwyl verdere skenkings ook direk in Sonop se rekening ontvang is.
“Die Dromtoer gaan oor veel meer as die afstand wat ons aflê. Elke kilometer verteenwoordig ’n stukkie hoop vir die kinders van die Ringerstraat Kinderhuis. Ons wil wys dat daar jongmense is wat werklik omgee en wat die jeug kan vermag wanneer hulle saamstaan en bereid is om hulself vir ’n groter doel te gee,” sê James Gerber, organiseerder van vanjaar se Dromtoer by Sonop Christelike Tehuis.
Die studente sal tydens die toer in skole langs die roete oornag. In Heilbron sal hulle in ’n kerksaal tuisgaan en ook die kinderhuis besoek waarvoor hulle die kilometers aflê.

Die veiligheid van die fietsryers is ’n belangrike prioriteit en hul ry die hele week in ’n georganiseerde blok wat bestaan uit Sonop se eie begeleidingsvoertuie en ’n tegniese ondersteuningspan wat bystand sal verleen indien fietsryers onderweg probleme met hul toerusting ervaar.
“Dit gaan ongetwyfeld fisiek en geestelik uitdagend wees, maar ons weet vir wie ons trap. Wanneer die bene swaar raak, sal die wete dat elke kilometer tot iets groter as onsself bydra, ons vorentoe dra,” sluit Gerber af.
Lede van die publiek en ondernemings word genooi om die Dromtoer te ondersteun en die fietsryers per kilometer of met ’n eenmalige skenking te borg.
Vir meer inligting oor die toer en gereelde opdaterings, gaan na Sonop se Instagram- en Facebook-blaaie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
