Local elections newsLocal newsMunicipal

DA neem voortou in Tshwane metro met 29.8% steun

Tshwane se verkiesingstryd ontvou soos wyksgewys uitslae wys watter partye veld wen en wie steun verloor. Met stemme wat steeds getel word, bly beheer oor die stadsraad onseker. Volg die jongste wykswenners, party-prestasies en moontlike koalisie-implikasies soos die OVK verdere uitslae bekendmaak.

Die DA het teen 12:30 op 5 November met 29.8% steun as die leidende party by ActionSA oorgeneem wat op 24.5% gestaan het en die ANC op 21.9%.

ActionSA het teen 12:00 op Donderdag 27.91% van die proporsionele stemme in Tshwane gehad, gevolg deur die DA met 25.2% en die ANC op 24.8% nadat sowat 16% van die stemme getel is.

Volgens die jongste beskikbare voorlopige syfers het ongeveer 51.4% van geregistreerde kiesers in Tshwane gestem. Dit is gebaseer op sowat 50 van die 796 stemdistrikte wat teen 06:48 op 5 November se uitslae ingedien het. Die syfer kan verander namate verdere uitslae verwerk word.

Die syfers dui ook op ’n moontlike groot verskuiwing in die politieke landskap van die Tshwane metro, met ActionSA wat ’n kans staan om die tweede grootste party in die metro te word, volgens politieke kommentator Herman Pretorius. Die DA behou steeds sterk steun, terwyl die ANC se steun onder druk is.

Die stempersentasie in Tshwane het teen 12:00 op 5 November reeds op 52% gestaan.

Pretorius sê dit is moeilik om betekenisvolle voorspellings te maak terwyl die uitslae nog onvolledig is.

“Met onvolledige syfers is dit altyd moeilik om voorspellings te maak. As ’n mens na die algemene syfers landswyd kyk, is dit egter belangrik om ook te let op waar spesifiek daardie syfers vandaan kom in terme van plattelands sowel as stedelik.”

Herman Pretorius, politiek kommentator. Foto: Verskaf

Hy sê ’n ekstrapolasie van die nasionale uitslae is nie noodwendig veelseggend nie, maar dat sekere tendense reeds duidelik begin word.

“Wat wel duidelik is, is dat die ANC ’n pak slae kry. Daar is ’n groot moontlikheid dat ActionSA die tweede grootste party in Tshwane kan word, terwyl die DA steeds stewige dubbelsyfers behoort te toon. Die ANC loop die gevaar om minder as 20% van die steun in Tshwane te kry.”

Pretorius sê die hoër opkoms in talle Tshwane-wyke is ook ’n positiewe ontwikkeling.

“Ons het nie verwag dat ons die lae stempersentasie van 2021, ná Covid-19, weer sou sien nie. Dit is goeie nuus dat die opkoms in talle wyke in Tshwane hoër as in die vorige verkiesing is. Dit kan beslis toegeskryf word aan die kommunikasieveldtogte van partye soos die DA en die VF Plus, wat die noodsaaklikheid daarvan beklemtoon het dat kiesers hul stem moet uitbring.”

Intussen het die DA sy posisie in die Moot behou deur Wyk 52, wat Waverley, Bergtuin, Villieria tot by 26ste Laan en Rietfontein tot by 26ste Laan tussen Louis Trichardt- en Meyerstraat insluit, te wen.

DA-raadslid Adriana Randall het inwoners bedank vir hul vertroue na haar oorwinning (Wyk 52) en gesê sy sien daarna uit om voort te gaan met haar werk in die wyk.

“Ek wil elke inwoner bedank vir die vertroue wat hulle in my geplaas het. Ek is dankbaar dat ek weer die geleentheid kry om te dien. Ek voel geëerd en vertrou om hierdie verantwoordelikheid voort te sit.”

Randall sê haar fokus sal die volgende vier jaar op dienslewering en die probleme waarmee inwoners daagliks worstel, bly.

“Dit was nooit net oor die verkiesing nie. Dit gaan daaroor om aandag te gee aan diensleweringskwessies. Inwoners is steeds bitter bekommerd oor die straatligte, die reservoir en die Tjaart van Vuuren-swembad. Ek ken hierdie kwessies en kan dit aanspreek.”

Op nasionale vlak het die Verkiesingskommissie van Suid-Afrika (OVK) intussen bevestig dat die verwerking en verifikasie van stemme vorder. Volgens OVK-hoofverkiesingsbeampte Sy Mamabolo het 18 munisipaliteite reeds die vaslegging van hul uitslae voltooi.

Mamabolo het Donderdag tydens ’n mediakonferensie by die Nasionale Uitslae-operasiesentrum gesê die tel-, saamvoegings- en verifikasieproses het deur die nag voortgeduur in die teenwoordigheid van party-agente en geakkrediteerde waarnemers.

Hy het politieke partye, onafhanklike kandidate en hul ondersteuners versoek om geduldig te wees en die proses sy gang te laat gaan.

Die OVK sê ongeveer 14.5 miljoen Suid-Afrikaners het gestem teen die tyd dat stemlokale Woensdag om 21:00 gesluit het. Dit sluit sowat 13 miljoen gewone stemme en 1.5 miljoen spesiale stemme in.

Kiesers kan die uitslae op die OVK se webwerf, mobiele toepassing en WhatsApp-kanaal by 0600 88 00 00 volg.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button