Nuwe Tommies tuis na dié oriëntering
Die nuwe gr. 8-leerders van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé is soos gewoonlik met 'n baie spesiale tradisionele verwelkoming by die skool ontvang.
POLOKWANE – Die nuwe gr. 8-leerders van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé is soos gewoonlik met ‘n baie spesiale tradisionele verwelkoming by die skool ontvang.
Die hele gr. 8-groep het van Woensdag, 15 Januarie, tot Saterdag, 18 Januarie, by die skool oorgeslaap en die skool se gr. 12-leerders het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om die groentjies te oriënteer.
“Ons het baie lekker gekuier,” het Johndré Duvenhage, ‘n gr. 8-leerder vertel. “Ons het baie oor spanwerk geleer, deur ‘n moddergat gekruip en baie pret gehad.”
Damian Arle het vertel hoe hulle tot 24:00 wakkergebly het en soms weer teen 02:00 wakker moes word om oefeninge te doen.
Verlede Vrydag is al die gr.8-leerders saam met die skool se leerlingraad na die graf van Tom Naudé. “Die skool is na Tom Naudé vernoem en die gr.8-leerders is hier amptelik as Tommies ingelyf,” het Org van den Berg, leerlingraadvoog gesê.
Wessel Stone, leerlingraadslid, het vertel dat hulle as gr. 12’s dit net so geniet het om met die gr.8-leerders te werk.
Vir Kyle Bester, voorsitter van die leerlingraad, was dit ‘n voorreg. “Ons is besig om Tom Naudé te vorm. Ons bou ‘n nalatingskap,” het hy gesê.



