SAVF Martha Hofmeyr het die gemeenskap se hulp nodig
Die bestuur plaas ‘n beroep op die gemeenskap om hulle te help met radios en afval verf

POLOKWANE – Bitter min van ons het ondervinding met bejaardes wat Alzheimersiekte of demensie het, maar dié van ons wat wel het sal kan vertel dat dit nie ‘n maklike pad is om te stap nie.
By SAVF Martha Hofmeyr is daar ‘n spesiale eenheid vir inwoners met hierdie siektes en die bestuur plaas ‘n beroep op die gemeenskap om hulle te help.
“Dit is baie belangrik om hierdie inwoners rustig en kalm te hou,” vertel Marieta Janse van Rensburg, bestuurder van SAVF.
“Musiek kan help om hierdie inwoners rustig te hou. Ons benodig 25 radios om te sorg dat elke inwoner rustig en kalm bly. Het jy ‘n ou radio wat jy glad nie meer gebruik nie? Skenk dit asseblief aan Martha Hofmeyr en maak ‘n verskil in ons mensies se lewens.”
Behalwe vir die radio’s wil die bestuur ook die verfwerk aan die geboue opgradeer en Marieta vra enige iemand wat afval verf het, om dit ook te skenk.
“Wanneer ‘n mens verf, bly daar altyd so bietjie oor wat nie gebruik word nie. Skenk dit asseblief aan ons, sodat ons die geboue mooi kan uitverf.”
Vir enige skenkings kontak Marieta by (015) 295 9077.




