CrimeNews

Mislukte rooftog: twee verdagtes word gesoek

'n Mislukte rooftog by 'n swaarvoertuigherstel- en verkopeagentskap het skeefgeloop

‘n Mislukte rooftog by ‘n swaarvoertuigherstel- en verkopeagentskap het verlede Donderdagoggend skeefgeloop toe die twee vermeende rowers koue voete gekry het en daar weg is sonder om enige geld te neem.

Die twee mans het Tyco Trucks kort na oopmaak tyd aangeval. Hulle het die bestuurder van die besigheid en ‘n kliënt aangehou en vasgebind.

Die twee het ‘n tydelike werker, Louise Joubert, genader omdat hulle gedink het ‘n sluitkas met ‘n sleutel wat naby aan haar gestaan het, was die kluis. Dit was egter net vol rekenaartoerusting.

Toe hulle sien dat daar nie geld in was nie, het hulle haar na die kantoor gedwing en heeltyd gevra waar die kluis met geld was. “Hulle het die klein kluis wat by my was, egter misgekyk,” het Joubert vertel.

Ander werkers het intussen ingekom en hulle ook deur die rowers aangehou. Joubert het net heeltyd vir die rowers gesê dat sy nie weet waar die kluis is nie.

“Iets het gebeur, miskien omdat die ander werkers ingekom het en daar toe te veel mense was, want die een man het buitentoe beweeg. Die ander man het hom gevolg. Ek het na die werkswinkels agter gehardloop waar die ander werkers gestaan het en vir hulle geskree om die polisie te skakel,” het Joubert gesê. Intussen het ‘n ander werker aangekom en sy wou in die kantoor ingaan, maar Joubert het haar geroep en gesê sy weet nie of die rowers dalk intussen teruggekom het nie. Die ander werker het weggery.

Volgens Joubert was die een man geklee in ‘n ou denimbroek met ‘n bruin gordel en ‘n gryserige of “beige” t-hemp. Hy het ‘n effense baard gehad, ‘n pertinente sny naby sy oog en ou akneemerke (swart vlekke) op sy gesig. Die ander man was geklee in ‘n blou tweestuk oorpak. ‘n Waarskuwing is dadelik versprei na lede van die Edwel Buurtwag om op die uitkyk te wees vir die mans, wat albei gewapen was met handwapens.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button