Local NewsNews

Verslaafdes kan gehelp word

Kobus Smith (42) het nie soos meeste ander mense met 'n "gateway drug" soos dagga begin nie, nee, hy het sommer dadelik met heroïen begin.

Kobus Smith (42) het nie soos meeste ander mense met ‘n “gateway drug” soos dagga begin nie, nee, hy het sommer dadelik met heroïen begin.

Hy was ook nie ‘n tiener wat wou eksperimenteer nie, want hy was 34 jaar oud toe hy die eerste keer voor dié dwelm geswig het. “‘n Vriend het dit gebruik en ek het dit toe saam met hom begin gebruik.”

Twee jaar later het hy op ‘n punt gekom waar hy besef het hy het hulp nodig. “Ek was 36 en het agtergekom dat ek nie meer die effek kry wat ek soek deur net heroïen te snuif nie. Om dieselfde gevoel te kry, moes ek begin om dit binneaars toe te dien.” Op daardie stadium was hy werkloos.

Hy het sy ma en broer genader om hom te help en is in ‘n rehabilitasiesentrum opgeneem waar hy vir drie weke lank mediese behandeling ontvang het.

Kobus het nie by ‘n ondersteuningsgroep aangesluit nie en het teruggeval in die dwelmgewoonte en verslaaf geraak aan kokaïene. Hy het vyf maande lank kokaïene gebruik voordat hy weereens hulp gesoek het.

Na sy terugslag, het Kobus by ‘n ondersteuningsgroep aangesluit en weeklikse vergaderings bygewoon. “Mens kan nie sonder hierdie groepe ophou dwelms gebruik nie.”

Dwelms het ‘n invloed op alle sfere van sy lewe gehad. Oor ‘n tydperk van ‘n maand en ‘n half het hy R65 000 aan sy gewoonte spandeer en is selfs gearresteer, nie vir dwelmgebruik nie, maar wel oor geld wat hy verduister het.

“Ek het by ‘n plek gewerk en dit was naby aan die einde van die maand. ‘n Klient het R120 000 inbetaal wat ek moes oorbetaal. Ek het niks meer gehad om te verkoop nie en het net R4 000 nodig gehad, maar het die volle R120 000 in my rekening betaal. Ek het alles weer einde van die maand terugbetaal, maar ek is steeds gearresteer.” Hy het ‘n opgeskorte vonnis gekry.

Ook het hy en sy vriend ‘n snoepwinkel besteel om geld vir dwelms te kry.

Hy het vertel hoe hy sy familie onbewustelik weggestoot het. “Jy voel niks, emosioneel word jy afgestomp. Jy wil alles en almal manipuleer om te kry wat jy soek. Jy gee glad nie om oor ander nie.”

Fisies het die dwelms sy korttermyn-geheue aangetas. “Ek het ‘n fotografiese brein gehad, maar deesdae sukkel ek om te onthou waaroor ek besig is om te praat.” Artritis is ook op vroeë ouderdom by hom gediagnoseer.

“My raad aan ander mense wat dwelms gebruik is dat hulle nie moet bang wees om vir hulp te gaan nie. Niemand kan jou dwing om gehelp te word nie, dis ‘n besluit wat jy self moet neem. Die mense by die rehabilitasiesenstrum oordeel jou glad nie. Hulle verstaan hoe jy voel.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button