CrimeLocal NewsNews

Maak seker dat jy jou versekering verstaan

'n Ontstelde Jenny Kotze het mense gewaarsku om seker te maak onder watter omstandighede versekeringsmaatskappye uitbetaal

‘n Ontstelde Jenny Kotze van Eduanpark het mense gewaarsku om seker te maak onder watter omstandighede hulle versekeringsmaatskappye uitbetaal en wanneer nie.

‘n Eis wat Kotze onlangs ingedien het by ‘n versekeringsmaatskappy, is afgekeur op grond daarvan dat daar nie geforseerde toegang verkry is tot haar huis nie.

Drie weke gelede het sy toegang verleen tot haar huis, wat in die mark is, aan voornemende kopers, “wat by iemand gehoor het hoe mooi die huis is,” en dit graag wou besigtig.

Die sogenaamde kopers het by die hek van Kotze se huis getoet en sy het die hek oopgemaak. Sy het vertel dat sy gedink het dat dit een van die agente, wat gereeld op díe manier toegang tot die erf verkry het, was.

Twee vroue en ‘n man het sommer by die agterdeur ingekom nadat hulle die motor buite onder ‘n afdak parkeer het.

Hulle het hulself voorgestel en gevra om na die huis te kyk. Omdat haar bediende ook by die huis was, het Kotze hulle laat inkom en die huis gewys.

“Hulle het hulself voorgedoen as ‘n dokter, ‘n fisioterapeut en ‘n onderwyser en het met ‘n silwer motor gery.

Die een vrou was stillerig en het heeltyd met haar selfoon foto’s geneem,” het sy vertel.

Kotze het hulle die huis se woonstel gewys en toe die huis se kamers, terwyl die huishulp ook saamgeloop het. Die huishulp het later teruggegaan na die kombuis toe en die besoekers wou die swembad en tuin sien. Kotze het hulle vergesél.

In die tuin, wat ‘n groentetuin insluit, het die een vrou liries geraak oor die “pragtige spinasie” en het gevra of sy nie dalk daarvan kon kry nie. Kotze het haar huishulp geroep om te help met die pluk.

Later die aand het die gesin eers agtergekom dat drie skootrekenaars, juwele asook haar dogter se duur parfuum weg was. ‘n Dosie waarin ‘n nuwe selfoon was, is ook oopgemaak, maar die selfoon was nie meer daarin nie. Kotze se selfoon was stukkend en sy het dit aan die besoekers gesê tydens hulle toer van die huis.

Die gesin het die polisie ingeroep en ‘n verkla-ring afgelê.

“Die polisieman het vir my gesê dat daar dikwels op die manier goed uit huise gesteel word. Daar was vermoedelik ‘n ander persoon wat eers in die motor agtergebly het en later die goedere, wat deur selfoonfoto’s uitgewys word, geneem het. Moontlik toe ons by die swembad en met die ‘pragtige spinasie’ besig was,” het Kotze gesê.

“Ons het in die ses en twintig jaar wat ons versekering uitneem nog nooit geëis nie,” het sy vertel. “My man het egter onlangs met pensioen afgetree en my seun het die versekering vir die huisinhoud op sy naam gesit. Ons makelaar het ook die versekering na ‘n ander versekeraar verander wat ons ‘n beter opsie aangebied het, maar hy was seker dat die eis uitbetaal sou word.

“Dit is egter geweier, al het ons die kwitansies vir die rekenaars aan die assessor gewys. Hy het gevra hoekom ek nie die deur gesluit het nie. Wie sluit nou die deur as die elektriese toegangshek toe is en jy net na jou tuin uitgaan? Hy kon ook maar ons vorige eisrekords nagegaan het.”

Kotze se juwele wat gesteel is beloop naastenby R20 000, maar dit is van baie sentimentele waarde; stukke wat sy by die geboorte van haar kinders en tydens huweliksherdenings gekry het en wat onvervangbaar is.

“Moenie sommer iemand toegang tot jou huis en erf gee nie. Bewaar ‘n persoon as sy huishulp dalk iets sou neem, dan is daar ook nie geforseerde toegang tot die huis nie.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button