
‘n Bekende plaaslike sake-ondernemer, mnr. Jerry Mabusela van Ipopeng Funeral Services, is Maandagoggend oorkant ‘n finansiële onderneming in Retiefstraat oorval en van ‘n kontant bedrag beroof.
Na bewering het twee vermomde rowers vir Mabusela in ‘n arkade oorval en sy sak met kontant en ‘n vuurwapen gegryp. Die rowers het ook vir Mabusela aangerand.
‘n Ooggetuie wat die voorval vanuit haar motor waargeneem het, sê sy was paniekbevange en het gehoor hoe die slagoffer om hulp skreeu.
Die rowers het in ‘n wit Toyota Yaris op die vlug geslaan. Lede van die Valke Buurtwag, Suricat, en lede van die SAPD het ‘n soektog na die verdagtes geloots. ‘n Helikopter is ook ingespan.
Verdere ondersoek tot die voertuig se registrasie het getoon die motor is as gesteel by die SAPD in Seshego aangemeld. Die motor is later by ‘n woning in De Klerkstraat gevind.
‘n Geskokte Mabusela het na die voorval by ‘n geneesheer gaan aanklop vir sy beserings. Met druktyd is geen verdagtes wat verbind word met die roof, in hegtenis geneem nie. Die polisie se ondersoek duur voort.