Wat vroue oor dié kanker moet weet
Oktober is Vroue-Gesondheidsmaand en Review het met Janie Wierenga van Kansa gesels om meer uit te vind oor borskanker.

POLOKWANE – Oktober is Vroue-Gesondheidsmaand en Review het met Janie Wierenga van Kansa gesels om meer uit te vind oor borskanker. “Vroeë borskanker toon gewoontlik nie simptome nie, maar soos die gewas groter word, kan die bors anders begin lyk en voel,” sê Janie.
Tipiese veranderinge sluit in:
• ‘n knop of verdikking in of naby die bors of in die armholte;
• ‘n verandering in die grootte of vorm van die bors;
• kuiltjies of rimpels in die vel van die bors;
• ‘n tepel wat na binne inkeer;
• abnormal afskeiding van die tepel;
• die vel van die bors lyk of voel soos le-moenskil, en
• skubberigheid, rooi of geswelde vel op die bors, tepel of aerola (die donker deel rondom die tepel).
Volgens Kansa kan borskanker wat vroegtydig opgespoor word meer effektief behandel word met ‘n groter kans op herstel. “Gereëlde ondersoeke gee gemoedsrus. Vroegtydige opsporing kan jou lewe red,” sê Janie.
Kansa raai lesers aan om bewus te wees van hoe hulle borste normaalweg lyk en voel en om enige verandering met ‘n dokter te bespreek. Borsondersoeke behoort elke maand tydens ovulasie gedoen te word, verkieslik op die selfde tyd van die dag.
Baie vroue ondervind dat hul borste soms knopperig voel.
Volgens Kansa is dit normaal. SureTouch is ‘n toestelwat knoppe, so klein soos 5mm, in die bors uitwys.
Ondersoek en geverifiee deur Kansa, is hierdie toestel ‘n meer effektiewe siftingsmetode en is meer betroubaar as ‘n bors-selfondersoek, maar vervang nie ‘n mammogram nie. Siftingsondersoeke is beskikbaar by Kansa Polokwane.
‘n Kliniese borsondersoek (KBO) is ‘n visuele en tasbare ondersoek van die hele bors, vanaf die sleutelbeen tot die bralyn en van die armholtes tot by die borsbeen. As jou roetiene mediese ondersoek by jou dokter nie ‘n KBO insluit nie, vra daarvoor.
Vir meer inligting skakel Kansa tolvry by 0800 22 66 22 of vir Janie Wierenga by 082 376 2755



