Plaaswerker se been afgeruk
'n Werker op 'n plaas buite Tzaneen het haar been verloor in 'n frats-ongeluk verlede Donderdagoggend.
POLOKWANE – ‘n Werker op ‘n plaas buite Tzaneen het haar been verloor in ‘n frats-ongeluk verlede Donderdagoggend.
Die ongeluk het omstreeks 10:00 plaasgevind op ‘n plaas tussen Westfalia en Modjadjieskloof. Die werkers was klaarblyklik besig om gif in die avokadoboorde te spuit.
Volgens inligting het die plaaswerker agter op ‘n sleepwa gery toe haar kledingstuk in die roterende koppelstuk, wat aan die trekker gekoppel is, ingetrek is.
Hierdie koppelstuk staan bekend as ‘n Power Take Off shaft (PTO). Die werker is van die wa afgeruk.
Volgens inligting is haar linkerbeen 10 cm bo die enkel in die ongeluk geamputeer sowel as ‘n gedeelte van haar regterbeen. Die pinkie aan haar regterhand is ook afgeskeur.
Nooddienste was vinnig op die toneel waar hulle noodbehandeling toegepas het.
Limpopo EMS-nooddienste se helikopter is ontbied en die werker is omstreeks 11:20 na Polokwane gevlieg vir noodbehandeling.
Motors aan beide kante van die R36 was opgehoop om plek te maak vir die helikopter om te land.



